Blitsbokke moeilik uit kwarteind gehou na groot seges

sevens-logo-groot

Al moet hulle nog ʼn wedstryd speel, kan Suid-Afrika kwalik uit die kwarteind van die Las Vegastoernooi van Wêreldrugby se sewesreeks gehou word.

Hulle het  Saterdagoggend eers vir Kanada met 26-7 en toe vir Frankryk met 31-0 bloedneus gegee.

Suid-Afrika moet nog vroeg Sondagoggend  (02:08) teen Wallis speel, maar selfs ʼn onwaarskynlike neerlaag daar sal hulle op ʼn punteverskil, wat 66 tans beter is as Kanada s’n, laat deurdring al klop Kanada vir Frankryk.

♦  Teen ʼn fisieke Kanada het dit Saterdag aanvanklik gesukkel. Kanada se kaptein John Moonlight het eerste gedruk en sy span was rustyd met 7-5 voor na Ruhan Nel se goeie drie.

Kanada was soms gevaarlik op die aanval en die Blitsbokke se lyne en/of kommunikasie op die verdediging in die eerste helfte was nie altyd suiwer nie. Hulle dissipline het ook gepla en die hanteerwerk was nie heeltemal wat ʼn mens van hulle verwag het nie.

Die tweede helfte was egter stukke beter en die vermoë van Suid-Afrika se spelbrekers om rigting te verander wanneer dit nodig was en goeie opvolgspel na die baldraer toe was te veel vir Kanada.

Hulle het die tuisspan in hul eie gebied vasgepen en twee drieë deur Rosko Specman en een deur Branco du Preez om sy 50ste toernooi te vier, het die Blitse eindelik redelik gemaklik laat wen. Du Preez het een drie verdoel en Justin Geduld was twee keer in die kol.

♦  Frankryk was nie opgewasse nie en is met vyf drieë en ʼn telling van 31-0 gestraf. Hulle het egter gewys hoe hulle met drukverdediging die Bokke kon vashou en selfs ontwrig.

Die Franse dissipline op die verdediging het egter verhoed dat hulle met die patroon  ʼn houvas kon kry teen die Blitsbokke wat in die wedstryd weer met hulle samespel en dinkwerk vyf keer kon druk.

ʼn Kommer vir die afrigter Neil Powell is moontlik die ingooiwerk van Specman wat sy span twee agtereenvolgende lynstane gekos het. Sy ingooiwerk lol al lankal.

Hy is na ʼn strafskop kantlyn toe onmiddellik deur Du Preez vervang, en dit het dadelik tot Shakes Soyizwapi se drie gelei.

Die Blitsbokke was rustyd met 17-0 voor na Geduld, Specman en toe weer Geduld gaan druk het. Soyizwapi en Werner Kok het in  die tweede helfte gedruk.

Geduld het twee drieë verdoel en Du Preez een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.