Blitsbokke sak terug na tweede plek op punteleer

Die Blitsbokke is ná die naweek se wêreld-sewestoernooi in Singapoer vir die eerste keer ná agt toernooie nie die voorlopers op die reeks se punteleer nie.

Ja, daar kan seker ʼn saak uitgemaak word vir die effek van die beserings wat die kaptein, Kyle Brown, die skitterende spelbreker, Rosko Specman, (reeds in die eerste wedstryd) en die man jong Selvyn Davids in die toernooi opgedoen het.

Die Blitsbokke moes die laaste wedstryd dus sonder hulle pak – maar dit is deel van die spel.

Daar moet sommer ook baie punte gaan aan die jonges wat die toekoms van die Blitsbokke se sukses oënskynlik sal verseker. Tog was dit drie foute, twee in die halfeind teen Fidji (12-14) en een in  die uitspeel om derde plek teen Engeland (24-26) deur die jonges in kritieke stadia wat die Bokke gekos het.

Maar natuurlik, dit ís ʼn spansport. Hulle meer ervare spanmaats het uiteraard óók foute gemaak wat egter minder opvallend was weens die betrokke situasie in die verloorwedstryde.

Kom ons vergeet daarvan. Sewesrugby is nie ʼn eksakte spel nie, en die vaart – en aanvalswaagmoed – wat dit verg sal altyd tot foute lei.

Die eindstryd is deur Fidji teen Australië gewen. Fidji het daarmee 22 ligapunte verdien teenoor die Blitsbokke se 15 vir vierde plek en loop nou met vier punte op die gesamentlike punteleer voor, met nog net die twee toernooie in Londen en Parys wat voorlê.

Mismoedig hoef die Blitsbokke en hulle ondersteuners nie te wees nie. In Hongkong het die klomp jonges met twee punte in die halfeind verloor; sewe van die meer gesoute Blitsbokke het in Suid-Afrika ruskans gekry met die oog op die laaste twee toernooie en die Wêreldbekertoernooi en die jonges het waardevolle ondervinding opgedoen.

Boonop was dit net ondervinding, in Singapoer sowel as in Hongkong, wat tussen die Blitse en ‘n beter prestasie gestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann cb ·

Ek kry nogal effens skaam dat ons so vasgeval het! Toemaar, sê ek dan, daar kom nog geleenthede!

Snuffels ·

Kapteinskap en dink werk het ons in die steek gelaat. Ons was 12 – 7 voor en het n strafskop reg voor die pale 10m uit gekry met omtrent 3 minute oor. Hoekom nie die punte vat nie…laat Fidji 2 keer moet punte aanteken. Partykeer kan n strafskop die verskil wees tussen kampioen en 2de plek, selfs in 7’s! Maar die breins by die bokke werk dalk anders

Frans C ·

‘n Mens moet nie altyd die skeidsregters blameer nie,maar teen Engeland is ‘ duidelike vorentoe aangee ,wat tot ‘n drie gelei het,deur Engeland oor die hoof gesien,terwyl die Bokke ‘n geelkaart gekry het omdat hul nie vinnig genoeg 10 meter teruggeval het na ‘n strafskop aan Engeland toegeken is.

Hierdie is een van die mees onsinnige reëls in rugby. Geen speler kan so vinnig 10 meter terugval, as wat ‘n veral skrumskakels die kort skoppie na ‘n strafskop neem. As jy 30 sekondes kry om ‘n drie te verdoel en 30 sekondes voordat jy ‘n drie druk,gee die span
dan teminste 10 sekondes om terug te val.

Hierdie reël saam met die reël in 15 man dat net die ingooiende span die bal moet haak is mi onsinnig.Ons sien week in en week uit hoe spanne met sterk skrums, spanne wat die bal ingooi totaal verwoes, sodra een van die voorry sy voet oplig om die bal te haak en die voorry onstabiel raak.
Party keer is die druk so groot dat nie eeen van die ingooiende span sy voet kan oplig nie en kry dan ‘n vryskop teen hul.
Verander dit sodat beide spanne ‘n poging moet aanwend om die bal te haak . Nog ‘n ding waarvan ontslae geraak moet woord is die amper judogooie,nie laagvatte wat gebruik word om spelers op die grond te kry.’n Gooi is nie ‘n laagvat nie.

Jonathan ·

Oor die algemeen is ek meer as tevrede met vertonings. Een ding wat my egter pla is die skoppe pale toe. Baie maal is Cecil Africa se mik nie wat wonders nie en kan 2 punte die wedstryd bepaal.
Sal graag wil weet wat is ons sukses persentasie op die gebied teenoor die ander top 5 lande.

rollie ·

Fiji verdien om vanjaar se reeks te wen, hulle is ook definitief die beste span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.