Blitsbokke sal sokkies vinnig moet optrek

Die Blitsbokke in aksie teen Kanada (Foto: Don MacKinnon/AFP)

Die Blitsbokke sal die teleurstelling van die Kanadese sewestoernooi in Vancouver so gou moontlik wil vergeet.

Die Blitsbokke het laat Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) slegs 13de geëindig nadat hulle Japan met 13-5 in die eindstryd van die uitspeelwedstryde om die 13de posisie geklop het.

Die Blitsbokke (89 punte) het ʼn miserabele drie punte in die toernooi verdien en het tot sewende op die puntelys afgeskuif nadat hulle deur Argentinië (108), Frankryk (95), Fidji (94), Australië (94) en Samoa (ook 89 punte) op die puntestand verbygeskuif is.

Nieu-Seeland, wat vyfde in die toernooi geëindig het, is steeds voor (120 punte), maar sy voorsprong het gekrimp nadat die Argentyne die toernooi gewen het deur Frankryk in die eindstryd met 33-21 te verslaan.

Australië het die bronsmedalje verower nadat die Aussies Ierland met 20-5 getroef het.

Die Blitsbokke se treurmare het Vrydag begin toe hulle met 19-19 teen Frankryk gelykop gespeel het.

Hulle het Japan met 40-12 geklop, maar twee drieë afgestaan wat hulle later duur te staan gekom het. Nadat hulle met 12-0 deur Argentinië geklop is, het hulle nie tot die uitspeelrondes deurgedring nie omdat Frankryk ʼn beter punteverskil gehad het.

Die Blitsbokke se treurmare het nie daar geëindig nie, want hulle is met 17-12 deur Kenia in die halfeindronde van die uitspeelwedstryd om die negende posisie uitgestof.

Die Blitsbokke het darem vir Kanada (31-14) en Japan (17-5) in die uitspeelwedstryde om die 13de plek geklop.

Uitslae:

Eindstryd: Argentinië 33, Frankryk 21.

Bronsmedalje: Australië 29, Ierland 5.

Eindstryd om vyfde posisie: Nieu-Seeland 50, Uruguay 7.

Eindstryd om die negende posisie: Samoa 35, Kenia 17.

Eindstryd om 13de posisie: Suid-Afrika 17, Japan 5.

Die volgende toernooi is van 31 Maart af tot 2 April in Hongkong.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Suzette ·

Net nog ‘n eens uitstekende SA span wat in sy kanon is oor ???? Glo ons almal weet ….

Moedeloos ·

Ek het net n paar wedstyde gekyk maar wraggies hul verdediging was pateties gewees. Daar sal daadwerklik baie hard gewerk moet word om weer op standaard te kom waaraan ons gewoond is.

Martin ·

Kom ons sê dit soos dit is – kwota spelers ( nie almal nie) en onbevoegde regstellende aksie breiers is die hoofredes vir die verval.

jou gewete ·

iemand wat bereid is om waarheid te praat, baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.