Blitsbokke se fokus is om Dubai-foute uit te skakel

Die Blitsbokke sal hulle Saterdag nie daaraan steur dat die All Blacks drie spelers vanuit Nieu-Seeland moes invlieg nadat hulle verlede week beserings in Dubai opgedoen het nie.

Nieu-Seeland het verlede week die toernooi in Dubai gewen. Hulle is ook die verdedigende kampioen in die Kaapstad-toernooi van die Wêreldrugby-sewesreeks wat Saterdag en Sondag in die Kaapstadse stadion in Groenpunt gespeel word.

Vir die Blitsbokke sal die fokus nie op die ellendes van Nieu-Seeland wees nie, maar om self te speel soos hulle kán nadat hulle net drie uit hul ses wedstryde in Dubai kon wen en sesde geëindig het.

Van die vernaamste dinge waaraan die Blitsbokke se afrigter Neil Powell die week aandag gegee het, is die afskoppe en die ontvangs van afskoppe af. Veral Fidji het die slordigheid hier baie goed uitgebuit in hul ekstra-tyd oorwinning teen die Blitsbokke.

Dieselfde 13-tal wat in Dubai op die veld was ‒ Selvyn Davids het as 13de speler vir Justin Geduld vervang toe hy nie verder kon speel nie ‒ doen weer in Kaapstad diens. Geduld is fiks en terug in die beginspan.

Die enigste uitdaging vir die Bokke is egter nie net die laaste wedstryd van die dag teen die All Blacks nie. Hulle moet keer dat dinge nie vroeg al skeefloop nie.

Hulle het in hul eerste kragmeting, teen Samoa, ʼn taai tameletjie wat wag. Verlede naweek het die Blitsbokke in die groepronde met 19-12 deurgeskraap teen ʼn aggressiewe span met goeie snellers. Powell is taamlik versigtig vir die Suidsee-span, want ʼn neerlaag kan die kragmeting met Nieu-Seeland ʼn moet-wen wedstryd maak om die kwarteind te haal.

♦  Selfs al eindig die Blitsbokke tweede en kwalifiseer hulle vir Sondag se kwarteindronde, sal dit nie ideaal wees nie. Hulle sal dan waarskynlik teen Australië te staan kom, wat in Dubai baie skerp vertoon het.

♦ Nieu-Seeland het die Blitsbokke, wat laas in 2015 in Kaapstad gewen het, verlede jaar in die halfeindstryd in Kaapstad met 17-12 geklop.

Blitsbokke se afskoptye Saterdag ­‒

12:27: vs Samoa
15:48: vs Zimbabwe
19:56: vs Nieu-Seeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.