Blitsbokke se fokus op Skotland-stryd wat die momentum moet bring

Die Blitsbokke kan in die naweek se toernooi in Parys feitlik seker maak dat hulle die 2016/’17-reekswenner  van Wêreldrugby se sewesreeks is – maar dit is nie hulle onmiddellike fokus nie.

Suid-Afrika is tans 25 ligapunte voor Fidji op die saamgestelde puntetelys. Deur in die laaste twee toernooie – Parys en Londen – albei kere die kwarteind te haal, sal hulle 20 punte insamel – meer as wat Fidji selfs met twee toernooiseges sal kan regkry. Maar daar is vele permutasies wat die Blitsbokke reeds Sondagaand kan laat feesvier.

Maar dit is blote syfers … Die werklikheid is dat die Blitsbokke in die eerste plek mik na ʼn goeie vertoning teen Skotland, teen wie die Blitsbokke hulle groepfase afskop. Die Skotte het verlede jaar in die laaste toernooi met Suid-Afrika afgereken en vanjaar weer met rukke van die voorste spanne in die reeks geklop.

Wen is dus nie ʼn voldonge feit nie. Maar goed begonne is half gewonne, is klaarblyklik die Blitsbokke se siening.

“Ons het in  die reeks nie een keer voor die toernooi op die puntelys gefokus nie,” het die kaptein, Philip Snyman, verduidelik. “En ons doen dit ook nie voor die Parystoernooi nie.

“Ons benadering is eenvoudig en ons sal daarby bly omdat dit tot dusver goeie resultate meegebring het.

“Vervelig soos dit mag klink, sal ons op ons eerste wedstryd teen Skotland fokus. Ons was suksesvol wanneer ons vroeë momentum gekry het en dit sal weer ons doel wees.”

Die span toon twee veranderinge van die twaalftal wat vir die vorige toernooi in Singapoer gekies was. Stedman Gans en Zain Davids is nou by die Junior Bokke.

Hulle word deur Ryan Oosthuizen en Dewald Human vervang.

Oosthuizen het wel in die toernooie in Hongkong en Singapoer as reserwe gespeel, maar word nou deel van die gekose twaalftal, met Sandile Ncgobo wat nou die reisende reserwe is.

Specman het in al vier die toernooie gespeel wat die Blitsbokke in die reeks gewen het.  Sy besering was ʼn terugslag, maar met Cecil Afrika, Werner Kok, Branco du Preez, Ruan Nel, Shakes Soyizwapi en die terugkerende Specman lyk die gevestigde span weer soos kookwater.

Human het al verskeie wedstryde vir die SA Akademiespan agter die rug, maar behoort met sy vlugvoetigheid en aftrappe goed in te pas by die span wat in die loop van die reeks vir Kyle Brown, Justin Geduld, Stephan Dippenaar, Carel du Preez en ook Selvyn Davids met beserings, Seabelo Senatla en Kwagga Smith (Superrugby), en ook vir Zain Davids en Stedman Gans (Junior Bokke) verloor het.

Human het ook verlede jaar Superrugby vir die Kings gespeel.

Suid-Afrika speel Saterdag teen Skotland (11:28), Japan (14:54) en Kanada (18:42).

Blitsbokke (toernooie, punte tussen hakies) –

1. Chris Dry (60, 435)
2. Philip Snyman (45, 276, kaptein)
3. Dylan Sage (15, 90)
4. Ryan Oosthuizen (2, 0)
5. Werner Kok (27, 320)
6. Siviwe Soyizwapi (10, 140)
7. Branco du Preez (53, 1026)
8. Tim Agaba (9, 30)
9. Dewald Human (0, 0)
10. Cecil Afrika (51, 1246)
11. Rosko Specman (19, 248)
12. Ruhan Nel (19, 172)
13. Sandile Ncgobo (4, 20)*
* Reisende reserwe

SA Rugby persverklarings vir die artikel verwerk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

Is ek stupid of is daar fout op die berig?
Gans en Davids is nou by die Blitsbokke. Hulle word vervang deur Oosthuisen en Human?
Dan is Gans en Davids nie meer by die Blitsbokke nie?

Janie Monsieur ·

Dagsê Koos1,
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.