Blitsbokke se Specman klaar met sewes, teken by die Bulle

Rosko Specman – klaar met sewesrugby. (Foto: Facebook)

Rosko Specman, driedruk-blits van die Blitsbokke, sal van aanstaande seisoen vir die Bulls en Blou Bulle beskikbaar wees.

Dié 29-jarige lid van die wêreld se beste sewesspan is tot 2020 deur die Blou Bulle Maatskappy (BBM) gekontrakteer.

Specman het vir die Sharks-vyftiental en ook in een Curriebeker-wedstryd vir die Durbanse span gespeel. Hy het egter die aandag as vleuel by die Pumas getrek waar hy tussen 2013-’15 in 45 wedstryde 29 drieë vir die Laevelders gedruk het.

Specman het ook vir die Vrystaat Cheetahs in die Curriebeker-reeks en vir die Cheetahs in die Pro14-reeks uitgedraf voor sy skuif Pretoria toe.

Hy het tot verlede seisoen in 138 wedstryde vir die Blitsbokke gespeel maar besluit om hom voortaan op die vyftienmankode toe te spits.

♦ Die veelsydige Divan Rossouw, wat vanjaar vir die Bulls in die Super-reeks goeie rugby op die vleuel gespeel het, is ook tot 2020 gekontrakteer. Hy kan ook heelagter, senter en skrumskakel speel en het sy merk vir Tuks in die Varsitybeker-reeks gemaak.

♦ Die ervare haker en voormalige kaptein van die Luiperds, Edgar Marutlulle wat vir die Lions en Goue Leeus, die Southern Kings en ook vir die SA A-span gespeel het, sal die plek van die voormalige Springbok-kaptein Adriaan Strauss, wat uitgetree het, moet help volstaan.

Marutlulle speel al die afgelope drie seisoene vir die Bulls en Blou Bulle.

♦ Johan Grobbelaar, wat reeds vir die Bulls in die Superrugby-reeks uitgedraf het en verlede seisoen vir die Junior Springbokke gespeel het, is (soos Marutlulle) ook ʼn haker.

♦ Die vyfde speler wat homself tot 2020 aan die Blou Bulle en Bulls verbind het, is die senter Franco Naude. Soos Grobbelaar het hy verlede jaar ʼn proesel Superrugby gekry. Hy het ook vir die Junior Bokke gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.