Blitsbokke se sukses nie heeltemal in hul eie hande nie

Die werklikheid is maklik: Die Blitsbokke se kanse om hul reekstitel in Wêreldrugby se sewesreeks te behou, is nie meer heeltemal in hul eie hande nie.

Hulle eie beheerbare verantwoordelikheid is om Saterdag en Sondag in Parys die laaste toernooi in die 2017/’18-sewesreeks te wen.

Maar dit is nie genoeg nie. Fidji se teenstanders in groep A, óf die span waarteen hulle in die kwarteindronde speel, moet keer dat Fidji nie na die halfeindronde deurdring en onder die voorste vier spanne op die toernooi eindig nie.

Suid-Afrika is tans sewe punte agter Fidji op die reekspunteleer. Wen die Blitsbokke die toernooi in Parys, kry hy 22 punte by sy 160, en speel Fidji ʼn vierde plek los, kry hy 15 punte by sy 167 en is die twee spanne gelykop met 182 punte elk.

Maar dan wen Fidji die reeks, want die Suidsee-eilandespan het immers vyf toernooie van die nege tot dusver gewen, en die meer konstante Blitsbokke net een.

Dus: die Fidjiane moet in die kwarteindstryd uitgeskakel word, anders is hulle in die boonste vier.

Kan dit gebeur? Natuurlik. Die Fidjiane is maar ʼn wispelturige spulletjie en het in twee van die eerste drie toernooie, in Kaapstad en in Sydney, nie die halfeindronde gehaal nie.

Sal dit weer gebeur? Onwaarskynlik.

Fidji het vyf van die laaste ses toernooie in die reeks gewen, en in die een wat hulle verloor het, in Las Vegas, die bronsmedalje gewen. Hulle is op ʼn wenkurwe en het al die selfvertroue in die seweswêreld.

Voeg daarby die Blitsbokke se ontwrigting oor die onbeskikbaarheid van die twee ervare spelbrekers Cecil Afrika en Branco du Preez weens beserings ‒ en dan praat jy nie eers van die langtermynbeserings van Kyle Brown en Rosko Specman en die onbeskikbaarheid van Muller du Plessis (by die Junior Bokke) nie.

Daar is ʼn hele klomp uitstekende jonges wat nou toenemend deur die Blitsbokke se stelsel begin kom, maar ʼn goeie jonge is darem (nog) nie heeltemal ʼn ervare uitblinker nie.

♦ Die Blitsbokke behoort, selfs op ʼn afdag, hul groep te wen waar hulle teen Kanada, Rusland en Skotland te staan kom. Hulle sal dan teen een van Wallis, die verrassend goeie “nuweling”, Ierland of Engeland te staan kom.

Fidji het wéér vir Nieu-Seeland in sy sterk groep. Kenia en Samoa kan dalk verras, maar Fidji sal selfs dan genoeg kan doen om na die kwarteindronde deur te dring. Dáár sal hulle teen Engeland of die VSA speel met Argentinië ʼn buiteperdmoontlikheid.

Wen Fidji daar, is hulle in die halfeindstryd, verseker van 15 punte en maak dit geen snars saak wat die Blitsbokke doen nie.

Daar is ook die feitlike onwaarskynlike moontlikheid dat die Fidjiane reeds in die kwarteindronde  uitgeskakel word wat die druk op die Blitsbokke om te wen effens sal verminder.

Suid-Afrika se speeltye in die groepronde ‒

Saterdag
10:06 ‒ teen Skotland
13:02 ‒ teen Rusland
18:30 ‒ teen Kanada

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

Kom ons draai nie doekies om nie – as jy net een toernooi wen en daar is n span wat reeds vyf gewen het, verdien jy doodeenvoudig nie om n reeks wenner te wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.