Blitsbokke se titelhoop is nou op Engeland

Die Blitsbokke het gestotter, amper gestruikel maar toe reggeruk en met ʼn goeie oorwinning teen Kanada in die derde groepwedstryd weer plek-plek gelyk na ʼn gehaltespan.

Vóór dit het hulle teen Skotland vasgeval. Hulle was ook binne ʼn minuut van  ʼn tweede neerlaag wat hul toernooi-doppie sou geklink het voordat Seabelo Senatla gaan druk en Dewald Human verdoel het om Rusland, die swakste van die 15 kernspanne in die reeks, te klop.

Die 28-0-oorwinning oor Kanada was genoeg om die groep te wen met Kanada wat in tweede plek geëindig het.

Die Blitse speel nou Sondag (11:19) teen Spanje in die kwarteindronde. Verloor hulle, is dit neusie verby en kan hulle nie hul reekstitel suksesvol verdedig nie.

Maar daar is nog ʼn ander stertjie om die titel weer te wen: Engeland moet Sondag vir Fidji in húl kwarteindstryd klop en uitskakel.

Hulle speel hulle kwarteindwedstryd voor die Blitsbokke s’n en kan sake dan reeds besleg.

Fidji is tans met sewe punte op die reekspunteleer voor die Blitsbokke, en selfs ʼn vierde plek sal hulle die 2017/’18-wenner maak. Hulle moet dus net die halfeind haal.

Fidji het Saterdag in die groepronde onverwags teen Kenia slae gekry, en het voorheen al teen die Amerikaners vasgeval. Daar is dus nog kans vir duim vashou, hoewel die Blitse se kanse aan die skraal kant is om die titel te behou.

Teen Skotland, verloor 12-14

Die Blitsbokke het goed verdedig, bitter min besit gehad om mee aan te val en die paar kanse wat na hulle kant toe gekom het met swak besluitneming en hanteerwerk verbrou.

Die gevolg was dat Skotland, wat maar min om die lyf gehad het behalwe die vermoë om besit goed te behou, met ʼn verdoelde drie op die toeter met 14-12 teen Suid-Afrika gewen het.

Die Blitsbokke het reeds 20 duikslae uitgevoer voordat hulle die eerste keer hulle hande op die bal gesit het, en toe het Ryan Oosthuizen die bal in ʼn duikslag verloor voordat hy die heel eerste aangee deur ʼn Suid-Afrikaanse speler kon gee. Skotland het gaan druk en verdoel.

Ook in die tweede helfte was daar min besit vir die Blitsbokke en was goeie verdediging hul sterkste bate.

Teen Rusland, wen 21-19

Soos hulle teen Skotland reg teen die einde eers met ʼn laat drie geklop is in ʼn wedstryd waar hulle allermins na ʼn topspan gelyk het, só het die Blitsbokke met ʼn skuins doelskop in die laaste sekondes teen Rusland deurgeskraap.

Dit het hulle kanse lewend gehou om die kwarteind te haal en selfs om ondanks onwaarskynlike permutasies hulle titel as reekskampioen van Wêreldrugby se sewes te behou.

Indien moontlik, was die Blitsbokke teen Rusland nóg vrotter as teen Skotland, waar hulle verdediging hulle darem telkens gered het.

Teen die Russe, wat dikwels die gapings raakgesien en dit benut het, was die Blitsbokke se verdediging die swakpunt.

Die beserings van vier spelers wat in Suid-Afrika moes agterbly,  is geen verskoning nie. In die groep was daar genoeg manne met redelike tot selfs baie ervaring op die veld. Die spelers se lusteloosheid het jou egter toe laat dink die Blitsbokke glo nie werklik hulle kan die reeks of selfs die toernooi wen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.