Blitsbokke se verdediging help hul na kwarteind

springbok-sevens-greenDie Blitsbokke het vroeg Sondagoggend die eerste plek in groep A ingeneem en kom Sondagaand in die kwarteind in die Vancouver-toernooi van Wêreldrugby se sewesreeks teen Kanada te staan.

Maar dit was so hittete of hulle het hulle derde neerlaag in die reeks gely toe hulle in die laaste groepwedstryd met 12 elk teen Engeland gelykop gespeel het.

Die Blitsbokke se aanvalsangel was in al drie groepwedstryde in die toernooi nie so skerp as wat ʼn mens van hulle gewoond is nie en hulle dissipline by die afbreekpunt was teen Engeland ook nie op standaard nie. Hulle verdediging het hulle teen Engeland laat deurtrek.

Rosko Specman het in die eerste helfte weer buite om die Engelse span en toe langs die kantlyn af gehardloop om te druk, iets wat hy nou taamlik gereeld regkry. Hy word nou ʼn gemerkte man met sy lang lopies, baie waarvan na goeie aftrappe volg voordat hy die pedaal doellyn toe intrap.

Kort na die hervatting in die tweede helfte het Dylan Sage na ʼn sterk lopie en die afstamp van ʼn teenstander gaan druk. Specman se skop van naby die kantlyn is deur Suid-Afrika verdoel, soos die Engelse kaptein Tom Mitchell ook met hulle tweede drie gemaak het in ʼn wedstryd waar hulle die besit oorheers het.

Die wedstryd het feitlik twee minute na die eindtoeter voortgeduur weens die strafskoppe wat Engeland gekry het en waarvandaan hulle kon voortspeel. In die proses is Ruan Nel ook met ʼn geelkaart van die veld en toe moes die Blitsbokke met ses spelers walgooi.

♦  In die eerste groepwedstryd het die Blitsbokke met 33-0 teen Chili gewen en toe die veel groter en sterk hardlopers van Kenia met hulle verdediging ontwrig en met 15-5 gewen.

♦  Suid-Afrika speel Sondagaand 21:08 in die eerste kwarteind teen Kanada, wat Sondagoggend hulle groepwedstryd teen Nieu-Seeland met 14-15 verloor en tweede in groep D geëindig het.

Kwarteindwedstryde –

21:08 – Suid-Afrika vs Kanada
21:30 – VSA vs Argentinië
21:52 – Nieu-Seeland vs Engeland
22:14 – Fidji teen Australië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.