Blitsbokke se wekroep teen Chili

Die Blitsbokke het met 5-elk gelykop gespeel teen Chili het in hul tweede wedstryd in Groep C by die Sewestoernooi in Las Vegas. (Foto: Twitter via @Blitzboks)

Die Blitsbokke se aanslag op die Las Vegas-sewestitel het Saterdagoggend ʼn groot wind gesluk toe hulle met 5 elk gelykop gespeel het teen die onbesonge Chili in hul tweede wedstryd in Groep C.

Dit het gevolg nadat die Blitsbokke vroeër ʼn oorwinning van 26 – 0 oor Japan behaal het nadat hulle met rustyd slegs met 7 – 0 voor was.

Die Blitsbokke het toe ook nie heeltemal oortuig nie, hoewel daar in die tweede helfte ʼn groot opflikkering was.

Die Blitsbokke was rustyd met 5 – 0 voor teen Chili nadat Branco du Preez ʼn onverdoelde drie gedruk het.

Chili, wat voorheen nog net twee keer teen die Blitsbokke gespeel het en met ʼn oorwinning in hul eerste kragmeting jare gelede spog, het in die tweede helfte teruggeslaan toe Benjamin de Vidts ʼn onverdoele drie gedruk het.

Die Blitsbokke het die wedstryd in die sakkie gehad toe JC Pretorius in bykomende speeltyd oor die doellyn is, maar die bal verloor het nadat ʼn teenstander hom kort voor die doellyn geskaapvang het.

Wat duidelik is, is dat die Blitsbokke in ʼn bouproses is en baie nuwelinge op die proef stel.

Dis hoekom daar ʼn gebrek aan samespel is en foute begaan word, maar namate die toernooi vorder, behoort die spelers meer selfvertroue te kry en hul besluitneming te verbeter.

Die Bokke moet nog vroeg Sondagoggend (00:10) in hul laaste groepwedstryd teen Engeland speel en sal die uitspeelrondes na alle waarskynlikheid haal – wen of verloor.

Punte: Chili (5 (0): Drie: Bejamin de Vidts.

Blitsbokke 5: Drie: Branco du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Die vertrek van ‘n aantal Blitsbokke na die 15 man kode het groot leemtes gelaat wat moeilik gevul sal word.Dit is veral Rosko Specman se spoed van die merk af wat gemis word.
Moet dus nie te veel verwag van die huidige spelers,daar is groot skoene wat gevul moet word.

Valerie ·

“Boutydperk.” Is al 25 jaar al verby moeg vir die powere verskoning van enige SA sportspan. Sé eerder: deur ‘n beter span geklop. Wil hulle vir my sê dat al die ander spanne in die wêreld almal klaar is met hul boutydperk? Chili ook?

George in Bloem ·

Lyk vir my of die Blitsbokke al hoe meer agteruit boer. Nog ‘n patetiese swak toernooi.

Lol ·

Die 7’s akademie in Stellenbosch nog in plek? Indien wel, mors hulle geld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.