Blitsbokke sien uit na Kaapse draai

Die Blitsbokke wil sterk by die naweek se Kaapstad-sewestoernooi vertoon. Foto: Twitter.

Ná verlede naweek se spogsege oor Nieu-Seeland in die beker-eindstryd van die Dubai-sewestoernooi, is die Blitsbokke oorgehaal om hul ondersteuners ook op hul tuisveld op vuurwarm-rugby te trakteer.

In Dubai was spoed, talent en trots op die Blitsbok-spyskaart en die span sal ’n soortgelyke dis vir hul ondersteuners in Kaapstad wil bedien.

Een van die Blitse se sterspelers is Dylan Sage, wat vir die eerste keer in drie jaar weer in Kaapstad te siene sal wees.

Sage het in 2015 sy Blitsbok-debuut gemaak, maar het die 2017- en 2018-Kaapstadtoernooie weens beserings en Superrugby-verpligtinge misgeloop.

“Kaapstad is die een geleentheid wat ons kry om voor ons tuisskare te speel en ons moet dié geleentheid ten volle benut,” het Sage gesê.

“Dit is ’n wonderlike toernooi. Kaartjies is altyd uitverkoop en organiseerders maak seker dat daar oorgenoeg vermaak vir die ondersteuners is.”

Volgens Sage kort die span geen motivering om hul beste in die Kaap te gee nie.

“Die lywe was maar seer ná Dubai en die lang vlug huis toe, maar ons is soos helde op die lughawe ontvang. Dít, saam met ’n goeie nag se rus, was presies wat ons nodig gehad het om ons weer op te kikker.”

Ten spyte van die sukses in Dubai weet die Blitsbokke dat elke toernooi soos ’n nuwe hoofstuk in die sewesreeksboek is.

“Daar wag nuwe uitdagings op ons in Kaapstad. Ons is in ’n tawwe groep saam met die VSA, Fidji en Japan en ons moet gereed wees vir hul aanslag.”

  • Die groepe vir die HSBC-sewesreeks in Kaapstad:

Groep A: Suid-Afrika, VSA, Fidji en Japan

Groep B: Nieu-Seeland, Argentinië, Kanada en Wallis

Groep C: Engeland, Frankryk, Spanje en Skotland

Groep D: Samoa, Australië, Ierland en Kenia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George in Bloem. ·

Ek dink nie die Blitsbokke kon al die Kaapstad toernooi wen nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.