Blitsbokke skraap deur teen Hane

Ronald Brown van die Blitsbokke besig met ‘n duikslag op Frankryk se Joachim Trouabal. Die Suid-Afrikaners het deurgedring na die eindstryd van die Doebai-sewestoernooi. (Foto: Grant Winter/AFP)

ʼn Doodsnik-drie, met slegs drie sekondes oor in die halfeindstryd teen Frankryk, het die Blitsbokke tot die eindstryd van die Dubai-sewestoernooi laat vorder.

Die Blitsbokke het die Hane met 19-12 geklop nadat hulle rustyd met 12-7 voor was.

Maar dit was nie oortuigend nie, want die Blitsbokke was nie op hul stukke nie.

Soos dit egter in sport gaan, is die kenmerke van ʼn goeie span om steeds te bly wen – al speel hy nie goed nie.

Die Blitsbokke het ʼn paar duikslae gemis, hulle het een of twee keer geskop terwyl hulle besit gehad het en die hantering het ook hier en daar gelol.

Maar ʼn tweekuns aan drieë deur die kaptein, Siviwe Soyizwapi, en een deur Pretorius, het die Blitsbokke gered.

Hulle kom in die eindstryd (17:26) teen Australië te staan, wat Argentinië met 40-0 oorrompel het.

Dit was die Wallabies se grootste oorwinning nog en het hul punteverskil in ʼn halfeindstryd verbeter op die sege van 36-5 wat hulle in 2001 behaal het.

Die Wallabies behoort goeie rekenskap van hulself te gee, maar die Blitsbokke is steeds die groot gunsteling oor hul ervaring in vorige eindstryde en die wenmomentum van 23 agtereenvolgende oorwinnings wat aan hulle kant is.

Punte: Suid-Afrika 19 (12): Drieë: Siviwe Soyizwapi (2), JC Pretorius. Doelskoppe: Selvyn Davids, Ronald Brown.

Frankryk 12 (7): Drieë: Stephen Parez, Jordan Sepho. Doelskop: Paulin Riva.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.