Blitsbokke skuur deur in ekstra tyd, weer in eindstryd

Suid-Afrika het Sondag die sewende keer in sewe toernooie die eindronde van Wêreldrugby se 2016-’17-sewesreeks bereik toe hulle die VSA met 29-24 in ekstra tyd in die halfeind in Hongkong geklop het.

Daarmee is die Blitsbokke op koers om die titel te wen, die enigste van die toernooie wat hulle deur die jare nie kon wen nie. Hulle speel in die eindstryd teen Fidji (13:00).

Die oorwinning beteken ook dat die Blitsbokke verder voor Engeland op die algehele punteleer is nadat hulle met ʼn voorsprong van 23 punte (126 teenoor 103)  die Hongkong-toernooi binnegegaan het.

Engeland is in die kwarteind deur Australië uitgeskakel, wat in die halfeind pak teen Fidji gekry het wat oortuigend met 33-12 teen die Aussies gewen het .

Die Blitse het teen die VSA vroeg-vroeg ʼn drie afgestaan en was met 0-7 agter, maar toe het goeie werk deur die snellers en veral Cecil Afrika vir Shakes Sowayzwapi na drie minute se speeltyd deurgestuur. Twee minute later het Dylan Sage met ʼn goeie hardlooplyn en met Afrika se goedberekende aangee onder die pale gedruk en Branco du Preez het verdoel (12-7).

Toe, ná die rustydtoeter, was dit die beurt van Phillip Snyman en die kort rustyd het aangebreek met die Bokke met 19-7 voor na Du Preez weer verdoel het.

Net na die hervatting het Sage ʼn rolskopppie deurgestuur en Sowayzwapi het sy tweede gaan druk (24-7). Dit was ook ʼn rolskoppie wat aan die VSA hulle tweede (onverdoelde drie) besorg het (24-12).

En toe het die Amerikaners met die volgende stukkie spel, aangehelp deur n strafskop, die telling na 24-19 opgestoot. Met minder as ʼn minuut oor het die Amerikaanse naelloper Perry Baker toe ook in die hoek gaan druk (24 elk) met die wedstryd wat van die doelskop van die kantlyn afgehang het.

Madison Hughes se skop was rakelings mis en ekstra tyd moes gespeel word.

Die VSA het in ekstra tyd sy eie afskop gewen en was feitlik deur toe ʼn laaste aangee verlore gegaan het. Die Blitsbokke het die skrum gewen, ʼn onkant-strafskop van die skrum gekry en dit was Ruan Nel wat 70 meter verder afgerond het met die eerste punte in ekstra tyd wat die oorwinning gebring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.