Blitsbokke sluit WB-voorbereiding af in Mosselbaai

Chris Dry en Stedman Gans oefen nie die week vir oulaas saam voordat die Blitsbokke  na San Francisco vertrek waar die Sewes-Wêreldbeker-toernooi van 20 tot 22 Julie gespeel word nie.

Dié twee herstel nog van beserings en sal nie gereed wees om oor 12 dae in die Wêreldbeker-toernooi te speel nie.

Veral die ervaring van Dry, wat naas Frankie Horn en Kyle Brown die mees ervare speler nóg van die Blitsbokke is, sal gemis word. Brown is ook beseer en het geen kans gehad om in San Francisco deel te neem nie en Horn het reeds uitgetree.

Die Blitsbokke skaaf die week vir oulaas in Mosselbaai voordat hulle na San Francisco vertrek. Die span sal Woensdag aangekondig word en die volgende drie dae sal vir finale slypwerk aan die span gebruik word.

Die Blitsbokke, wat verlede maand die tweede opeenvolgende keer as die wenners van Wêreldrugby se sewesreeks gekroon is, mik in San Francisco na die een titel wat hulle nog altyd ontwyk het: dié van Wêreldkampioen.

“Ons fokus nou ten volle op wat ons in San Francisco wil bereik en ons beplanning is toegespits daarop om vir daardie eerste wedstryd gereed te wees,” het die afrigter Neil Powell in Mosselbaai gesê.

Die formaat is, anders as by die afgelope sewesreeks, uit die staanspoor ʼn uitkloptoernooi. Verloor jy, is jy uit.

Suid-Afrika se eerste wedstryd sal teen die wenner van die uitdunwedstryd tussen Chili en Ierland wees. En Ierland is nie ʼn maklike span om baas te raak nie.

Hulle het slegs aan die laaste twee toernooie van die afgelope Wêreldreeks deelgeneem en het verras deur die derde plek met hul eerste probeerslag en die kwarteindronde in die volgende reeks te haal.

Hierdie eerste wedstryd van die Blitsbokke is om 06:15 op Saterdag 21 Julie.

Die Blitsbokke het verlede week in Johannesburg geoefen en tydens die week teen die Goue leeus se sewesspan gespeel.

Powell was tevrede met die voorbereiding in Johannesburg. Hy sê dit is veral verblydend dat daar geen verdere beserings was nie en dat spelers soos Rosko Specman en Selvyn Davids goeie vordering gemaak het in hulle terugkeer tot wedstrydoefening.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wim van der Berg ·

Dankie, Snuffels. Ons waardeer die uitwysing van die glips en verander dit na Julie,

kas ·

Neil Powell het baie met die span vermag.Beserings aan sleutelspelers en spelers wat in die Superrugbytoernooi deelneem het sy keuses baie moeilik gemaak maar hulle het die reeks gewen.’n Pluspunt vir die gekleurde spelers,julle verdien almal julle plekke op meriete.Sterkte manne en rugbyliefhebbers kom ons ondersteun die manne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.