Blitsbokke speel soos van ouds, maar nou lê hef aan voor

Die Blitsbokke het al drie hul groepwedstryde op die eerste dag van die naweek se toernooi in Vancouver, Kanada gewen. (Foto: Twitter via @Blitzboks)

Die Blitsbokke het die teleurstelling van verlede week se wisselvallige vertonings in Wêreldrugby se Sewesreeks in Las Vegas op die rak geplaas toe hulle onoorwonne in hul drie groepwedstryde gebly het op die eerste dag van die naweek se toernooi in Vancouver, Kanada.

Die Blitsbokke het dit die moeite werd gemaak om wakker te bly, want hulle was skitterend teen Chili (43 – 0), Wallis (19 – 10) en die VSA (19 – 7).

Hulle het 81 punte aangeteken en net 17 afgestaan, ʼn getuigskrif van vordering, en sodoende verspot maklik tot Sondagaand (18:20) se eerste kwarteindstryd teen Argentinië deurgedring.

Die Poemas het Skotland (31 – 14) en Japan (24 – 7) geklop, maar met 14 – 33 teen Engeland verloor en tweede in hul groep geëindig.

In die ander kwarteindstryde speel Nieu-Seeland teen Fidji, die VSA pak Engeland en Samoa kom teen Frankryk te staan.

As die Blitsbokke Argentinië klop, sal hulle in die halfeindronde teen die wenner van die stryd tussen Nieu-Seeland en Fidji speel, wat ʼn baie hoë berg gaan wees om uit te klim. Maar as jy die beste wil wees, moet jy alle spanne kan klop.

Die Blitsbokke het ʼn metamorfose ondergaan, want waar hulle verlede week onverwags met 5-elk teen Chili gelykop gespeel het en in die kwarteindronde met 29 – 5 deur Amerika afgeransel is, het hulle Saterdagaand vir Chili vermorsel en die leemtes van die VSA vroeg Sondagoggend oopgevlek.

Die Blitsbokke het al drie hul groepwedstryde op die eerste dag van die naweek se toernooi in Vancouver, Kanada gewen. (Foto: Twitter via @Blitzboks)

Hulle het die VSA agter die voordeellyn vasgetrek en die Yanks met hul opskietverdediging gesmoor, hul hanteerwerk was suiwer, hul skrumwerk en ingooie in die lynstane was puik en hulle het ruimte geskep vir JC Pretorius om as die nuwe Blitsbokheld na vore te tree.

Dié jongeling het vaart, visie, ʼn goeie systap en nie ʼn bang haar op sy kop nie.

Die volgepakte stadion wou sekerlik die Amerikaners se spoedvraat Carlin Isles in aksie sien, maar hy is geen beweegruimte gegun nie en Pretorius het as die blinkste diamant na vore getree.

Bestendigheid gaan die antwoord wees in die uitspeelrondes, want net een glips, een stukkie swak verdediging, een swak aangee of een strafskop kan die skaal in die teenstander se guns laat swaai. Die Blitsbokke weet dit – die gesoute afrigter, Neil Powell, besef dit al te goed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Wwas beslis die moeite werd om te sien.Dit is ‘n pluimpie in die hoed van die afrigter en spelers dat hul na die verlies van spelers aan die 15-mankode,nog steeds genoeg talent
het.om ‘n toernooi te wen.

Dit is jammer dat hul met 4 toernooie oor 24 punte agter die voorloper is.Hierdie ouens
is beslis iets om op trots te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.