Blitsbokke steeds sonder ʼn Sewes-Wêreldbeker

Slaan hulle waar hulle sterk is.

Engeland het die losskrums geteiken en oorheers waar hul krag en ook getalle een te veel vir die Blitsbokke in die halfeindronde van die Sewes-Wêreldbekertoernooi in San Francisco was.

Suid-Afrika is nou ná sewe toernooie steeds sonder die Melrosebeker nadat Engeland hulle Sondagaand met 29-7 geklop het.

Suid-Afrika is by die afbreekpunte te dikwels van die bal gestoot, en het ook onder die druk swak balle agtertoe gespeel of Engeland toegelaat om die swak bal op te pik en verder te voer.

Min besit aan die Blitsbokke, en genoeg aan Engeland wat agterlangs ʼn afgeronde vertoning gelewer en vier drieë teen een gedruk het nadat die Blitsbokke se Selvyn Davids vroeg deurgesny en 50 meter vir ʼn drie in die hoek genael het wat hyself verdoel het.

Met hierdie oorheersing van Engeland by die losskrums was die Blitse se snellers dikwels nie betyds terug om agterlangs te help keer nie.

Die Blitsbokke was op die verdediging ook nie so skerp as in die kwarteindstryd teen Skotland nie. Engeland het dieper gespeel, die Blitse se opskietverdediging daarmee gedeeltelik geneutraliseer en gevolglik meer beweegruimte gehad.

♦  In die ander halfeindwedstryd het Nieu-Seeland verras en Fidji met 22-17 uitgeskakel. Suid-Afrika sal dus om 02:24 Maandagoggend teen die eilandmanne om die bronsmedalje speel terwyl Engeland en Nieu-Seeland om 02:53 sake om die titel sal uitspook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rena ·

Whow, kan iemand asseblief dadelik vir my werk aanbied – ek wil terug imigreer nadat ek die blitsbokke sien rugby speel het. Jammer dit is nie goud nie maar baie geluk met die brons.

Frans C ·

Die manier waarop skeidsregters die reël (wet) by die laagvat toepas het ‘n groot invloed
op hoe die spel verloop.Daar rus ‘n wedersydse verpligting op beide die laagvatter en die speler wat laaggevat is.
Die speler wat laaggevat is moet die bal onmiddellik plaas en wegrol,maar dieselfde verpligting rus op die laagvatter,wat ook onmiddellik moet wegrol of onmiddellik opstaan voordat hy die bal speel.

Baie skeidsregters blaas dus net die een of ander kant en in die geval van die Blitsbokke
kon ‘n mens duidelik sien dat die laagvatter eenvoudig bo op die Bokspeler bly lê,terwyl die ‘fetcher’ dan bo oor hom buig om die bal af te neem by die speler wat vasgepen op die grond lê.Dit word dan dikwels ‘n lotery en word die laagevatte speler dikwels gestraf
eenvoudig omdat hy nie sy plig kan uitvoer nie.
Dit maak ‘n video ontleding van hoe’n skeidsregter blaas mi netso belangrik as hoe ‘n ontleding van spanne se speelpatroon is.

So word die nommer een en nommer twee span dikwels uitgeskakel,soos met die Blitsbokke en Fiji.Dus ‘n geval van twee honde wat bakklei oor ‘n been en ‘n derde wat daarmee wegloop.

LOL ·

Stem 100% saam. Skeidsregter Evans ?? het die Blitsbokke geen genade betoon in die semi-finaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.