Blitsbokke sterk en ervare selfs sonder dié agt

Die Blitsbokke sal in die Seweswêreldbeker-toernooi wat van 20-22 Julie in San Francisco plaasvind, net een speler hê wat al in die toernooi gespeel het.

Die kaptein, Philip Snyman, wat in sy derde Wêreldbeker-toernooi speel, sal sy vier makkers van die Moskou-toernooi in 2013 gewis mis.

Kyle Brown, Cecil Afrika, Chris Dry en Seabelo Senatla van daardie span is weens beserings nie beskikbaar nie en die Blitsbokke verbeur daarmee ʼn allemintige klomp ervaring.

Tim Agaba en Stedman Gans kon ook nie vir die huidige toernooi oorweeg word nie. Boonop speel Kwagga Smith en Sikhumbuzo Notshe tans onderskeidelik vir die Lions en die Stormers Superrugby en kon ook húlle nie gekies word nie.

Dit is nietemin ʼn sterk twaalftal met heelwat ervaring wat as nommer een-gekeurde span na die weskus van die VSA reis. Die feit dat 28 spelers vanjaar in die span by die Statebondspele was of in Wêreldrugby se afgelope sewesreeks gehelp het dat die Blitsbokke vir die tweede opeenvolgende jaar die kampioenspan is, beteken dat daar geen nuwelinge op internasionale vlak blootgestel hoef te word nie.

Selvyn Davids en Rosko Specman is fiks en is ingesluit in die span wat volgens die afrigter Neil Powell gekies is met die vereistes van die betrokke toernooi in gedagte, waar elke wedstryd ʼn uitklopwedstryd is.

“Ek is tevrede dat die twaalftal almal tans op vorm is en dat hulle die beste spelers is vir die manier waarop ons die uitklopformaat van die toernooi wil benader,” sê Powell

Hoewel Suid-Afrika deur die jare nie te waffers in die Wêreldbeker-toernooi gevaar het nie, is Powell oortuig daarvan dat sy span goeie rekenskap van hulself sal gee as hulle by hul sterkpunte en die wedstrydplan hou.

Die span rond dié week hul voorbereiding in Mosselbaai af voordat hulle die reis na San Francisco aanpak. Hul eerste wedstryd is op Saterdag 21 Julie teen die wenner van Ierland en Chili, wat aanstaande Vrydag in die uitdunronde teen mekaar speel.

Die span ‒

Ryan Oosthuizen, Philip Snyman (kaptein), Dylan Sage, Zain Davids, Werner Kok, Heino Bezuidenhout, Dewald Human, Rosko Specman, Justin Geduld, Selvyn Davids, Siviwe Soyizwapi, Ruhan Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Branco Du Preez is uitgelaat. Ek verstaan dat daar nuwe bloed moet deurkom, maar ek glo Branco het nog steeds ‘n groot rol wat hy kan speel. Ervaring kan net nie gekoop word nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.