Blitsbokke teen Skotte; Tsjegge na Namibië

Neil Powell, die Blitsbokke se hoofafrigter, Gert Wessels, die uitvoerende direkteur van Assupol, en Willem Strauss, die promotor van die Stellenbosse toernooi. (Foto: Verskaf)

Die Blitsbokke speel Saterdag teen Skotland in die Assupol-sewestoernooi op Stellenbosch; en die Tsjeggiese Republiek stuur vanjaar die eerste keer ʼn span na die Safland-toernooi op Swakopmund, Namibië.

Dié nuus kom uit die stal van die internasionale rugbypromotor Willem Strauss, wat albei toernooie aanbied.

Hy laat weet ook dat die Suid-Afrikaanse Supa Baabaas sy wedstryd Saterdag in Praag teen die Tsjeggiese Republiek met 45-10 gewen het.

Die Tsjegge het dit as voorbereiding benut vir hul komende uitdunwedstryd teen Pole met die oog op die volgende Wêreldbekertoernooi.

♦ Op Stellenbosch speel die Blitsbokke, die huidige titelhouer van die Wêreldsewesreeks (WSR), Saterdag in die laaste wedstryd van die rondomtaliefase teen Skotland, wat die Londense toernooi van die WSR gewen het.

Kenia en Engeland se Akademiespan neem saam met die Blitse en die Skotte in die A-afdeling deel; terwyl Uganda, Zimbabwe, Namibië en Mauritius die B-afdeling uitspook.

Die Blitsbokke se wedstryde Saterdag is teen die Engelse Akademie (11:20), Kenia (14:00) en Skotland (16:40).

Die uitklopfase word Sondag afgehandel.

Die Stellenbosse toernooi het ook ʼn o.17-afdeling waarin ʼn SA o.17-span (afgerig deur die gewese Blitsbok Marius Schoeman), met Argentinië, Namibië, die Westelike Provinsie, ʼn SA All Stars-span, Boland en die Suidwestelike Distrikte kragte meet.

Swakopmund

♦ Op Swakopmund neem die Tsjeggiese Republiek op 10 en 11 November die eerste keer aan Namibië se voorste sewestoernooi deel, nadat Duitsland en Pole voorheen deel daarvan was.

Die Tsjegge word deur die gewese Bulls-afrigter Phil Pretorius gebrei.

Strauss sê spanne van Namibië, Suid-Afrika, Lesotho, Uganda, Kenia, Mauritius, Zambië and Zimbabwe is ook na die toernooi genooi.

Hy sê waar die WSR drie weke later in Dubai afskop, bied die Namibiese toernooi die ideale geleentheid vir spanne om die laaste afrondingswerk te doen.

Die Blitsbokke het albei die vorige toernooie (die eerste een was in Windhoek) gewen.

Strauss meld dat die toernooi ook vir provinsiale en klubafdelings voorsiening maak, en dat spanne van die Blou Bulle, die Valke en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) hul deelname bevestig het.

Daar is eweneens ʼn skoleafdeling vir die ouderdomsgroepe o.19, o.17, o.15 en o.13.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.