Blitsbokke trap Australië in Spanje

JC Pretorius in aksie vir die Blitsbokke (Julie 2021) Foto: Twitter.

Die Blitsbokke speel vanaand om 19:55 in die eindstryd van die Malaga-sewestoernooi teen Argentinië. Dit is die Suid-Afrikaners se vyfde eindstryd in vyf toernooie. Hulle het die vorige vier gewen.

Die Blitsbokke het Australië verspot maklik met 19-0 in die halfeindstryd geklop.

Die Suid-Afrikaners se oorheersing van die wedstryd het beteken die Australiërs was vir die eerste keer in Neil Powell se span se kwartgebied met minder as twee minute oor in die wedstryd. Die Australiërs het toe boonop die bal vorentoe aangegee om aan die Blitsbokke ʼn skrum te besorg.

Van die afskop af was die Blitsbokke in beheer en Australië is verskeie keer gestraf omdat hulle nie wegrol van die bal af ná ʼn laagvat nie. Dit het ook aan die Australiërs ʼn geelkaart besorg.

JC Pretorius het die eerste drie gaan druk en Branco du Preez het die telling 7-0 gemaak.

Australië was hoofsaaklik in hul eie helfte vasgekeer en Suid-Afrika se verdediging het hulle gedwing om grotendeels agter die voordeellyn te speel. Dit het net tot meer foute en omkeerbesit gelei.

Nog omkeerbesit het kort voor rustyd daarvoor gesorg dat Mfundo Ndhlovu gaan druk het en Suid-Afrika was 12-0 voor.

Ná rustyd het Selvyn Davids met ʼn systappie en spoed gaan druk en Du Preez het die drie verdoel om die voorsprong te rek tot 19-0.

Die oorwinning teen Australië was die Suid-Afrikaners se 28ste agtereenvolgende sege.

Die Argentyne het Engeland in die ander halfeindstryd met 26-17 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan ·

As die kat weg is is die muis baas….geen All Blacks of Fiji nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.