Blitsbokke uit halfeind ná tweede neerlaag

Suid-Afrika het Sondag die eerste keer in die huidige sewesreeks van Wêreldrugby twee wedstryde na mekaar verloor en is met 19-17 in die kwarteindronde van die Singapoer-toernooi deur Australië uitgeskakel.

Dit was die eerste keer in die reeks se agt toernooie dat die Blitsbokke nie die eindstryd kon haal nie en ʼn geweldige terugslag vir die Blitsbokke se droom om die reeks te wen.

Daar wag nog toernooie in Parys en Londen op die deelnemende spanne.

♦  Die kwarteindstryde was op een uitsondering na vol verrassings met net een van die voorste vier spanne op die reekspunteleer wat, baie naelskraap, na die halfeind gevorder het.

Benewens die Blitsbokke, is Nieu-Seeland deur Kanada uitgeskakel en Fidji deur die VSA. Engeland het, met speeltyd verstreke, ʼn skep-strafdoel voor die pale oorgeskop en met 13-12 teen Kenia gewen.

Die Blitsbokke se enigste goeierige nuus Sondagoggend was dat Fidji, wat die hardste in die nekke van die Suid-Afrikaners blaas, ook uitgeskakel is. Hulle het met 19-24 teen die VSA verloor nadat hulle in die doodsnikke ʼn verdoelde drie gedruk het om die telling darem beter te laat lyk.

Die maksimum punte wat die Blitsbokke nou op die reekspunteleer in die toernooi kan verdien is 13, maar dan sal hulle hul volgende wedstryd, teen Fidji (10:26), moet wen en daarna die wenner van Nieu-Seeland en Kenia ook moet pak gee.

♦ Die Blitse speel die afgelope drie toernooie, sonder hul beseerdes en die twee wat nou Superrugby speel, nie strykdeur op dieselfde vlak soos voor die vyf verliese nie.

Sondag was dit wéér so. Ná twee goeie (onverdoelde) drieë binne die eerste drie minute deur Shakes Soyizwapi en Cecil Afrika was die Blitsbokke 10-0 voor. Daarna het Australië die eerste keer gevaarlik begin lyk en kort voor rustyd die telling 7-10 ná ʼn verdoelde drie gemaak.

Die tweede helfte is deur Suid-Afrika oorheers en ʼn goeie drie wat deur Philip Snyman afgerond is het hulle met 17-7 laat voorloop. Maar toe kry die Aussies hulle eerste bietjie besit, sny deur die Suid-Afrikaanse agterlyn en druk naby die hoek (17-12).

Hulle het toe nog ʼn verdoelde drie benodig en dit reg teen die einde behaal.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.