Blitsbokke verloor nog ʼn staatmaker voor Vancouver

Justin Geduld (Foto: fijivillage.com)

Justin Geduld (Foto: fijivillage.com)

Kyle Brown, Tim Agaba, Kwagga Smith, Seabelo Senatla … en nou ook Justin Geduld.

Dit is die spelers wat die Blitsbokke sedert die aanvang van die huidige sewesreeks van wêreldrugby afgestaan het. Hulle is almal invloedryke spelers op die vlak, maar sal nie die naweek in Vancouver kan speel nie.

Brown het ʼn langtermyn-kniebesering, Agaba se enkel is nog nie reg nie en Smith en Senatla speel Superrugby.

Die spelskepper Geduld het die afgelope naweek in Las Vegas sy enkel in die kwarteind teen Australië beseer en het die halfeind teen die VSA en die eindstryd teen Fidji misgeloop.

Dit is ʼn pluimpie vir die diepte en die eenvormige afrigting van die Blitsbokke dat die vervangende spelers so maklik by die span ingeskakel het sedert hierdie terugslae Neil Powell-hulle in Desember getref het.

Die Blitsbokke se afrigter het juis die 19-jarige Stedman Gans, wat as 13de (reserwe-)speler saam is Kanada toe, nou tot die spelerstwaalftal vir die Vancouver-toernooi bevorder.

Sandile Ngcobo het hom reeds uit Suid-Afrika by die span as die nie-spelende reserwe aangesluit.

♦  Die Blitsbokke, gerieflike voorlopers in die reeks ná hulle Las Vegas-oorwinning, skop hulle toernooi teen Chili af. Hulle het dan twee moeilike groepwedstryde teen Kenia en Engeland, wat albei geklop moet word om te verseker hulle gaan deur na die kwarteind.

Engeland is die enigste span wat die Blitsbokke in die reeks se 30 wedstryde tot dusver kon klop. Hulle het dit twee keer reggekry, onder meer in die eindstryd in Kaapstad waar die Blitse die enigste van hulle vyf agtereenvolgende eindstryde tot dusver verloor het.

♦  Die toernooi begin Saterdagaand om 19:20 en Suid-Afrika speel sy eerste wedstryd teen die Suid-Amerikaners om 21:20.

Die Blitsbokke se span vir die Vancouver-toernooi is Chris Dry, Philip Snyman (kapt.), Dylan Sage, Zain Davids, Werner Kok, Siviwe Soyizwapi, Branco du Preez, Stephan Dippenaar, Stedman Gans, Cecil Afrika, Rosko Specman, Ruhan Nel en Sandile Ngcobo (nie-spelende reserwe).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

Die span het sooveel diepte dat ek nie kan dink dat dit ‘n probleem gaan wees nie. Hulle het sonder Justin die eindstryd in VSA gehaal en gewen.
Sterkte Blitsbokke! Julle spel is vir my ‘n fees om na te kyk en saam met die Proteas maak julle my baie trots.

Talitha Brown ·

Ons was n klomp Suid Afrikaners wat van Kanada af gevlieg het om ons blitsbokke in Las Vegas te ondersteun. Ons is sooo trots op hulle. !!! Dit was n riem onder die hart om so baie Suid Afrikaners daar te sien. Dankie Cecil Afrika vir die pragtige foto met jou by die lughawe. Ons sien julle weer volgende jaar in Vegas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.