Blitsbokke wen afdeling, maar sal stukke beter moet speel

Só gaan die Blitsbokke nie die Londense sewestoernooi van Wêreldrugby wen en hul 2016-’17-reekstitel suksesvol verdedig nie.

Ja, die Blitsbokke het soos verwag is, hul afdeling gewen en na die kwarteindronde deurgedring waar hulle teen Nieu-Seeland te staan sal kom. Die All Blacks was ná 2½ minute reeds met 0-12 teen Fidji agter, het met 7-27 verloor en tweede in hul afdeling A geëindig.

Maar die Blitsbokke het ondanks hul eerste plek in afdeling D nie oortuig nie. Hulle het nie waffers gespeel  nie, in die laaste wedstryd teen die vrotsige Samoa op meriete met 12-21 verloor en ook allermins teen Kanada oortuig, hoewel hulle met 17-7 gewen het.

In hul eerste wedstryd teen Rusland wat hulle met 31-0 gewen het, is die Blitse tot ʼn enkele drie ná rustyd beperk.

Dit was veral die laaste wedstryd wat verder twyfel gesaai het oor die vermoë van die span wat deurgaans in die reeks boaan die reekspunteleer vasgebyt het met ʼn aantal tweede en derde plekke ná ʼn enkele titel in die eerste toernooi in Dubai verlede jaar. Hulle het egter maar selde na ʼn reekskampioen gelyk.

Philip Snyman se manne het Saterdag ook glad nie na ʼn aanspraakmaker op die toernooi- óf reekstitel gelyk nie. Die Blitsbokke se ritme was afwesig, hulle het te veel op eie houtjie probeer doen en op die verdediging het dit veral teen Samoa gelol.

Hul dissipline was ook ʼn remskoen. Die Blitsbokke is in al drie wedstryde swaar gestraf en het veral teen Samoa by die afbreekpunte te dikwels oortree.

Die Suidseemanne het net eenvoudig nie teen die vaart en die aanvalspatroon van die Blitsbokke geswig nie, hul snybewegings en rigtingverandering goed gelees en talle kere die Blitsbokke se besit omgekeer. Samoa was ná drie minute reeds met 14-0 voor.

Sondag se kwarteindronde-tye ‒

11:58 ‒ Fidji vs Kanada
12:20 ‒ VSA vs Ierland
12:42 ‒ Suid-Afrika vs Nieu-Seeland
13:04 ‒ Australië vs Engeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.