Blitsbokke wíl beter in Hongkong

Philip Snyman (regs) is die tydelike hoofafrigter van die Blitsbokke. (Foto: X/Blitsbokke)

Die tyd vir agteroorsit en wag dat dinge op die sewesrugbyveld gebeur, is verby; dit is skouer aan die wiel vir die Blitsbokke in Hongkong.

Die Suid-Afrikaners is tans sewende op die amptelike HSBC-punteleer nadat hulle die eerste toernooi in Dubai gewen het.

Die afrigterskas is intussen ook herrangskik en Philip Snyman hou nou in ʼn tydelike hoedanigheid die hoofafrigtersfluitjie vas.

Die naweek se Hongkong-toernooi sal sy eerste aan die stuur van die Blitsbokke wees.

Coach Philip is al geruime tyd deel van die opset en daar was dus nie te veel veranderinge nie. Ons ken hom en ons is deeglik bewus van wat hy van ons verwag,” het Selvyn Davids gesê.

Selvyn Davids – Blitsbokkaptein. (Foto: Jeff Vinnick/Getty Images North America via AFP)

Volgens die Blitsbok-kaptein gaan die spelers hul bes doen om Snyman nie teleur te stel nie. Hulle sal pa vir hul vertonings op die veld moet staan, maar terselfdertyd is dit ook ʼn nuwe geleentheid om hul sewesvernuf uit te stal.

“Jy maak juis meer foute op die speelveld wanneer jy bang is om dit te maak. Dit is goed dat ons nou ʼn geleentheid kry om die beste spelerweergawes van onsself te wees. Dit doen wondere vir jou ingesteldheid.”

Suid-Afrika begin sy veldtog Vrydag teen Ierland, terwyl groepwedstryde teen Spanje en Samoa ook op die spyskaart is.

“Dit is ʼn baie taai groep en ons sal vanuit die staanspoor op alle suiers moet vuur. Deesdae kan jy nie meer bekostig om foute te maak nie, want enige span is goed genoeg om wedstryde te wen. Ons is oorgehaal om in die bekerkwarteindstryd te speel en ons werk hard op die oefenveld,” het Snyman gesê.

Blitsbokke se Hongkong-groep: Christie Grobbelaar, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Ronald Brown, Selvyn Davids (kaptein), Shaun Williams, Dewald Human, Shilton van Wyk, Darren Adonis, Justin Geduld, Quewin Nortjé en Katlego Letebele.

Bepalings:

Vrydag:

05:39: Suid-Afrika teen Ierland

08:23: Suid-Afrika teen Spanje

Saterdag:

04:16: Suid-Afrika teen Samoa

  • Hoeveel punte die Blitsbokke ná elke toernooi van die jongste HSBC-sewesreeks verdien het:

Dubai: 20 punte

Kaapstad: 10 punte

Perth: 12 punte

Vancouver: 4 punte

Los Angeles: 2 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

kragaap ·

Die nuwe afrigter, wat self ‘n speler was, sal sekerlik veranderinge aanbring om die prestasie te verbeter.

piet ·

Ek glo nie kragaap. Hy is al geruime tyd ‘n hulp-afrigter gewees so kan nie juis ‘n verskil verwag nie. Die huidige spelers is nie goedgenoeg volgens my nie en ek het hierdie reeks sover baie nouliks gevolg en almal gekyk. So terloops – ek sien die nulle was weer hul ou self oor die naweek. Wat ‘n skande.

kragaap ·

Nuwe afrigter bring altyd nuwe perspektiewe en hopelik regte spankeuses, veral as hul self ervaring van baie wedstryde het. Kan net beter gaan met die blitse. Die telling op 2 Maart op loftus was 40-22.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.