Blitsbokke wil ondersteuners in Sydney weer laat glimlag

Stedman Gans saam met van die ander kapteins in Sydney. Foto: Twitter.

As die HSBC-sewesreeks iets met rekenaars te doen gehad het, sou die Blitsbokke waarskynlik die delete-knoppie op hul sleutelbord wou gedruk het.

Want Stedman Gans se jong span het onder andere sleg teen Kenia en Fidji verloor om ’n swak toernooi in die tiende plek af te sluit.

Maar, sê Gans, die Blitsbokke wil die komende Sydney-toernooi gebruik om hul reeks weer op koers te kry. Hulle speel die naweek in die groepfase teen Frankryk, Argentinië en Samoa.

Dié oudleerling van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria het die Hamiltonse teleurstelling vierkantig op sy span se skouers gepak, eerder as om die toernooiformaat te kritiseer waar slegs die topspan in elke groep na verdere bekeruitspeelwedstryde deurdring.

“Ons groep het gesamentlik meer as 400 toernooie agter die blad en dié ervaring behoort voldoende te wees om by enige formaatveranderinge aan te pas.

“Ons het net nie volgens ons potensiaal gespeel nie en ons het daardie uitslag verdien,” het Gans gesê.

Hy het ’n doodeerlike verduideliking vir sy span se treurige toernooi gegee.

“Om eerlik te wees, ons was pleinweg net nie goed genoeg nie. Ons standaarde het verswak en dit was baie teleurstellend vir ons as span.”

Volgens Gans sal sy span alles in die stryd werp om hul ondersteuners weer te laat glimlag.

“Ons het nóg ’n geleentheid en ons kan nie die een deur ons vingers laat glip nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan ·

Dit was teleurstellend. Komaan ons weet wat in julle steek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.