Blitsbokke wil wenrugby in Frankryk speel

Branco du Preez is een van die Blitsbokke se gevaarmanne. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

Ná ’n paar teleurstellende toernooie sal die Blitsbokke weer hul sewesveldtog in Frankryk en Engeland op koers wil kry.

Die Suid-Afrikaners is steeds die voorlopers op die HSBC-punteleer, maar hul voorsprong het tot net ses punte gekrimp en spanne soos Argentinië en Australië blaas in hul nek.

Gelukkig het die ervare Branco du Preez genoeg van sy skouerbesering herstel, terwyl Muller du Plessis ook weer gereed is vir aksie nadat hy sy been in 2021 gebreek het.

Al twee spelers is deel van Neil Powell (afrigter) se planne vir die komende toernooie in Toulouse (20 – 22 Mei) en Londen (28 – 29 Mei).

“Ons kan weer op die ervaring van Branco en Muller reken en hul teenwoordigheid sorg beslis vir ekstra diepte,” het Powell  gesê.

Op sy beurt is Du Preez weer opgewonde om deel van die Blitsbok-opset te wees.

“Daar is nog eintlik soveel op die spel en ons moet nou sterk vertoon om ons goeie aanloop tot die seisoen te regverdig. Dit is belangrik vir die span om weer sy stempel op die reeks af te druk en ek is vasberade om ’n goeie vertoning te lewer,” het Du Preez gesê.

Die Suid-Afrikaners se hanteerwerk was veral in die afgelope twee toernooie nie op standaard nie en Powell was vroeër oorgehaal om dinge reg te stel.

“Dit was ’n uitdagende paar toernooie en dit is nie iets waaroor ons as span baie gelukkig is nie. Ons het nie gespeel soos wat ons moes nie,” het die hardebaard afrigter gesê.

“Ja, ons het beter in die laaste twee wedstryde gespeel (die Blitsbokke het onder meer vir Nieu-Seeland geklop), maar dit verdoesel hoegenaamd nie ons swak punte nie. Ons sal hard moet werk om te verseker dat dit nie weer in die komende toernooie gebeur nie.”

Blitsbokke: James Murphy, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zian Davids, Tiaan Pretorius, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Ronald Brown, Dewald Human, Siviwe Soyizwapi, Muller du Plessis en Mfundo Ndhlovu.

Sewespunteleer:

  1. Suid-Afrika: 111 punte
  2. Argentinië: 105 punte
  3. Australië: 100 punte
  4. VSA: 70 punte
  5. Ierland: 69 punte
  6. Fidji: 65 punte
  7. Frankryk: 64 punte
  8. Engeland: 51 punte
  9. Spanje: 38 punte
  10. Kenia: 37 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.