Blitsbokke wreek hul neerlae teen Engeland

springbok-sevens-greenNadat Engeland Suid-Afrika in die groepwedstryde van die Australiese been van Wêreldrugby se sewesreeks en ook in die Kaapstadse eindstryd geklop het, was die Blitsbokke onder druk.

Hulle moes Engeland Sondag in die Sydney eindstryd pak en het met  hierdie twee neerlae in die agterkop opgedraf. Maar daar was net een span in die eindstryd, en dit was nie Engeland nie.

Die Blitsbokke het die Engelse Sondag maklik 29-14 geklop.

Dit was veel meer as net ʼn gewone oorwinning. Drie titels in die eerste vier toernooie van die huidige-sewesreeks is laas in 2007/’08 deur Nieu-Seeland vermag.

Boonop het die Blitse hulle voorsprong op die huidige reeks se puntelys na 17 punte vergroot, met 85 punte teenoor Engeland se 68. Fidji het na die derde plek op 64 punte teruggesak en die All Blacks staan op 56 punte.

♦  Philip Snyman het binne die eerste minuut vir die Blitsbokke gaan druk nadat die besoekers teen ’n geweldige pas afgesit het

Die Suid-Afrikaners het amper alle fasette oorheers. Ruan Nel en Snyman het in die losgemale die Engelse grys hare gegee. Daarby het Branco du Preez soos ’n tier verdedig en het Justin Geduld die gapings aangeval, iets wat ’n platform geskep het vir manne soos Seabelo Senatla om in te baljaar.

Teen rustyd was die Engelse reeds teen die planke met die Blitsbokke wat stewig in die saal was met 19-0.

Geduld se goeie spel is self met twee drieë beloon, terwyl Senatla en Stephan Dippenaar ook oorgeduik het.

♦  In die halfeindronde het die Blitsbokke gemaklik met Australië afgereken, 26-12 – hul sewende opeenvolgende oorwinning teen die Aussies.

Kwagga Smith het die Blitsbokke se eerste drie gedruk nadat die bal deur verskeie Blitsbokke se hande gegaan het.

Behalwe vir ’n tydperk kort voor rustyd het dit nooit gelyk of die Aussies kan wen nie. Toe die tuisspan na rustyd met vyf spelers moes klaarkom as gevolg van twee geelkaarte, was Australië se aspirasies van ’n oorwinning daarmee heen.

Behalwe Smith wat weer laat in die wedstryd gaan druk het, het Chris Dry en Seabelo Senatla ook agter die pale gaan kuier.

♦  Die Blitsbokke het die VSA in die kwarteindronde 21-10 gewen

Die VSA het eerste gaan druk en dit het gelyk of hulle die Blitsbokke kan verras. ’n Mengsel van ervaring en spoed van die Suid-Afrikaners het egter die knoop vir hulle deurgehak.

Justin Geduld was op sy stukke en het nie net die Blitsbokke se eerste drie gaan druk nie, maar ook onderskep om vir Justin Geduld oor te stuur.

Oudergewoonte het Seabelo Senatla ook gaan druk.

♦  Die volgende toernooi word van 3-5 Maart in Los Vegas beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.