Blitsbokke wys hoe mens nie speel nie

Seanelo Senatla het darem met sy vaart en inhaal-verdediging gewys hy wil

Seabelo Senatla het darem met sy vaart en inhaal-verdediging gewys hy wil

Die Blitsbokke het die naweek en veral Sondag nie naastenby gespeel soos ‘n mens van hulle verwag nie en `n so-so vierde plek in die eerste toernooi van die IRR se 2014-’15 sewesreeks aan die Australiese Goudkus ingeneem.

`n Skande is dit seker nie, maar `n groot teleurstelling wel. Daar was `n lusteloosheid, trouens amper `n belangeloosheid, dwarsdeur die toernooi. Selfs die goeie uitslae Saterdag in die ligaronde was nie toe te skryf aan ‘skerp’ vertonings nie.

“Ons het geen verskonings nie,” het die afrigter, Neil Powell, Sondag gesê nadat die Blitsbokke met `n verbroude Australiese doelskop ná die toeter 12-10 deurgeskraap het na die halfeindronde.

Dáár is hulle eers deur swak keerwerk geklop deur Samoa, wat die eerste helfte oorheers het nadat hulle gou-gou 14-0 voor was. Op 12-14 was die Bokke terug in die prentjie, en toe het die verdediging weer gelol en het Samoa nog twee drieë gedruk en 28-12 gewen.

Daarna moes Suid-Afrika om die derde plek teen Engeland uitspeel. Die telling van 19-0 het `n toernooi afgesluit wat die Blitsbokke voortaan net as motivering behoort te gebruik van hoe om nié te speel nie.

Nieu-Seeland het die Plaateindstryd teen Argentinië gewen nadat hy in die kwarteind 31-7 deur Engeland verwoes is, wat self in die halfeind 7-48 teen Fidji afgeslag is.

Fidji het toe in die eindstryd teen Samoa rustyd 26-0 voorgeloop, vasgebyt nadat hulle op 26-24 in die moeilikheid was en die uitslag in die laaste oomblikke 31-24 gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

henk ·

ek twyfel of die blitsbokke die gemors hoegenaamd vir enige iets moet gebruik!Nie eens om uit die verlede te leer nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.