Blitse bult reeds vroeg spiere in Spanje

Selvyn Davids. Foto: Twitter via Springbok Sevens.

Skotland het vandag glad nie sleg teen die Blitsbokke in Spanje begin nie.

Hulle het die hoogaangeskrewe Suid-Afrikaners fisiek aangevat en die een strafskop na die ander afgedwing.

Selfs JC Pretorius, wat deesdae doodluiters by enige sewesdroomspan sal kan instap, is met ’n geel kaart van die veld gejaag en die Skotte het rustyd ’n onverwagse voorsprong van 7 – 0 geniet.

Maar die Blitsbokke is deesdae so gewoond aan wen dat hulle nie sommer vir enige agterstand skrik nie en hulle het in die tweede helfte met ’n gekoördineerde teenaanval begin.

Zain Davids het my sy uitstekende stormramlopie die Suid-Afrikaners se eerste punte aangeteken, waarna Selvyn Davids sy toorkunsies uitgestal het.

Hy het eerstens die Skotte na lug met sy zoep-zap-en-zirts-lopies laat gryp en toe soos ’n wafferse sokkerspeler sy eie steekskoppie agternagesit om die Blitsbokke se derde drie te druk.

Shakes Soyizwapi en Christie Grobbelaar se drieë was die finale spykers in die Skotte se doodskis en die Suid-Afrikaners het op ’n drafstap met 27 – 7 gewen.

Daar is egter kommer oor Soyizwapi nadat hy sy skouer seergemaak het toe hy sy drie gedruk het.

Puntemakers: Selvyn Davids (2), Zain Davids, Shakes Soyizwapi en Christie Grobbelaar.

Blitsbok-toergroep: Sako Makata, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Christie Grobbelaar, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Justin Geduld, Dewald Human, Siviwe Soyizwapi, Mfundo Ndhlovu en Darren Adonis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.