Blitse deur na sesde opeenvolgende halfeind

springbok-sevens-greenDie Blitsbokke is deur na hulle sesde opeenvolgende halfeind nadat hulle Sondagaand die tuisspan Kanada deurmekaar gespeel het om die kwarteind van Wêreldrugby se sewesreeks in Vancouver met 36-7 te wen.

Hulle speel die halfeind om 00:08 teen die VSA wat effens gelukkig was om Argentinië in hulle kwarteind met met 4-12 te klop.

In die ander halfeind sal Fidji, wat met 28-10 teen Australië gewen het, teen Engeland speel wat met 14-12 teen die All Blacks baas was.

Rosko Specman (wie anders?) het dinge aan die gang gekry toe hy na 90 sekondes eenvoudig deur ʼn gaping gegly het om toe na ʼn lopie van sowat 60 meter te gaan druk. Cecil Afrika het verdoel.

Minder as twee minute later was dit weer Specman wat met pragtige voetwerk die bres geslaan het met Shakes Soyizwape wat hard moes werk voor hy in die hoek oor is.

Suid-Afrika was na drie minute 12-0 voor en dit het gelyk of dit ʼn maklike sege sou wees, maar binne twee minute was Kanada terug in die prentjie na Justin Douglas ʼn verdoelde drie gaan druk het (12-7).

Steeds was die baie aksie vir die groot skare van byna 40 000 nie verby nie, en Chris Dry het ʼn tipiese Blitsbokdrie gaan druk na goeie rigtingverandering en berekende aangeë deur sy spanmaats.

Die rustydtelling was dus 17-7 en die Blitse se sege nog ver van seker af.

Suid-Afrika het meestal min spelers by die afbreekpunte laat meeding maar nogtans hopeloos te min besit vir die Kanadese gelaat om mee te woeker. En daar was gevolglik ook meer spelers om die Kanadese vas te vat.

Drie minute na die hervatting het Branco du Preez gebreek, miskien te lank vasgeklou om Soyizwapi weg te stuur, maar toe in die duikslag vir die opvolgende Afrika gegee wat onder die pale oor is en Du Preez wat verdoel het. Op 24-7 was dit feitlik gedane sake.

Maar net twee minute later het Afrika die vlakstaande Kanadese agterlyn opgesom en uitgebuit met ʼn volmaakte hoekskop vir Soyizwapi wat sy tweede met ʼn drafstap in die hoek gedruk het. Afrika het skitterend verdoel en toe het Soyizwapi sy derde gaan druk na goeie werk aan sy binnekant vir ʼn 36-7-oorwinning wat die tuisskare verslae gelaat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.