Blitse druk 3 keer in vier minute teen Kiwi’s

Kwagga Smith – puik vertoning. (Foto: YouTube)

Drie drieë binne vier minute het die Suid-Afrikaanse sewesspan Saterdag in staat gestel om Nieu-Seeland in Dubai te klop en sy toernooititel suksesvol te verdedig.

Twee van die drieë het gevolg nadat die Kiwi’s met ʼn geelkaart gestraf is, en die Blitsbokke was rustyd met 19-0 voor.

Die Blitse is baie by die afbreekpunte gestraf, en Rosko Specman het net ná rustyd ‘n geelkaart op die lyf geloop.

Dié keer het die Nieu-Seelanders die geleentheid aangegryp om twee keer te gaan druk, maar Suid-Afrika het uiteindelik met 24-12 geseëvier.

Die ervare Blitse het kop gehou en die druk van Kiwi-kant af goed verwerk, om die uitslag in die laaste minuut bo alle twyfel te stel.

Kwagga Smith het ʼn uitmuntende vertoning gelewer.

Suid-Afrika is ook die verdedigende kampioen in die wêreldreeks.

Die Blitse het die eindstryd bereik deur vroeër Saterdag Samoa met 26-10 in die kwarteindstryd en Fidji met 12-7 in die halfeindstryd uit te skakel.

Die Suid-Afrikaners was puik teen Samoa. Veral hul verdediging was aansienlik beter as in die vroeë rondes en het hulle heelwat omkeerbesit besorg.

Hulle het algehele gebiedsvoordeel geniet, en nooit gelyk of hulle sal verloor nie.

Teen Fidji, wat gereeld na binne gebreek het om sy krag en grootte uit te buit, was die verdediging weer skitterend. Fidji kon selde wegbreek en is ook merendeels in sy eie gebied vasgepen.

Dit was die Bokke se beste vertoning tot op daardie stadium in die reeks, met goeie tussenspel en aansluiting by die baldraer.

Seabelo Senatla was weer kookwater, ook wat sy verdediging betref.

Suid-Afrika het 23 van sy jongste 24 wedstryde in Dubai gewen.

Die puntemakers –

Kwarteindstryd

Suid-Afrika 26 (12) – Drieë: Seabelo Senata (2), Werner Kok, Tim Agaba. Doelskoppe: Branco du Preez, Cecil Afrika (2).

Samoa 10 (5) – Drieë: Faalemiga Selesele, Alamanda Motuga.

Halfeindstryd

Suid-Afrika 12 (12) – Drieë: Cecil Afrika, Seabelo Senatla. Doelskop: Cecil Afrika.

Fidji 7 (0) – Drie: Jerry Tuwai. Doelskop: Jerry Tuwai.

Eindstryd

Suid-Afrika 24 (19) – Drieë: Tim Agaba, Kwagga Smith, Seabelo Senatla, Philip Snyman. Doelskoppe: Branco du Preez (2).

Nieu-Seeland 12 (0) – Drieë: Andrew Knewstubb, Scott Curry. Doelskoppe: Andrew Knewstubb.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.