Blitse druk meeste, keer beste op pad na kwarteind

Drie uit drie wenne in Suid-Afrikaanse rugby is in vandag se sukkeldae nie volop nie, maar dit is wat die Blitsbokke Vrydag op die eerste dag van Wêreldrugby se sewestoernooi in Dubai reggekry het.

Hulle is dus reeds deur na Saterdag se  kwarteindronde (08:58), soos ook Nieu-Seeland, Engeland en Fidji wat ook almal hulle groepe gewen het.

Die Blitse sal teen Samoa in die eerste van die uitspeelrondes te staan kom. Die Suidsee-eiland se manne het tweede na die All Blacks in groep D geëindig en slegs teen Nieu-Seeland (12-26) verloor.

Fidji het maklik met Argentinië afgereken, wat Vrydag tussen goed en swak gewissel het en het die VSA ook maklik geklop.

Die All Blacks  sal teen Kenia, die tweede geplaaste span in die Blitsbokke se groep, speel.

♦  Suid-Afrika het Kenia in hul beste vertoning van die dag met 48-5 kafgedraf nadat hulle maar met stampe en stote in hulle eerste wedstryd met 19-10 teen Uganda baas was.

In hulle laaste wedstryd teen Kanada het die Blitsbokke nie geskroom om terug te speel voorspelers toe nie, daar die afbreekballe te wen en Kanada dan gedwing het om wyer te gaan keer.

Na ʼn stadige begin, waartydens hulle die wedstryd nietemin oorheers het,  het die Blitse eindelik met 28-0 teen Kanada gewen.

Hulle verdediging was moontlik die uitstaande kenmerk van hulle spel op die eerste dag.

Die Blitse het nietemin saam met Fidji die meeste drieë (15) in die groepfase gedruk, en het net drie afgestaan, wat ook die beste van die dag was.

♦  Die Blitsbokke is egter nog nie so skerp, noem dit klinies, soos hulle graag sou wou wees nie, en Samoa mag hulle reeds in die kwarteind halt as Philip Snyman se manne nie Saterdag op alle silinders vuur nie.

♦  Die ander kwarteindwedstryde is tussen groep B se tweede beste Skotland en Fidji wat groep C gewen het, en Engeland en Australië, die tweede span in groep B.

Australië was ʼn minuut van ʼn oorwinning teen Fidji en eerste plek in hulle groep toe hulle binne die laaste 90 sekondes twee langafstand drieë afgestaan het. 

Die kwarteindbepalings vir die Beker Saterdag – 

08:58 – Suid-Afrika teen Samoa
09:20 –
Fidji teen Skotland
09:42 –
Nieu-Seeland teen Kenia
10:04 –
Engeland teen Australië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.