Blitse klop Engeland oortuigend op pad na kwarteind

Dit vergoed natuurlik nie vir die loesing verlede week teen Australië in die eindstryd nie, maar die Blitsbokke se tweede afranseling van Engeland binne agt dae is darem goeie rede tot genoegdoening.

Kyle Brown se troepe het Saterdag in die groepronde van Wêreldrugby se sewesreeks in Hamilton die Engelse span heeltemal oorheers en met 28-7 gewen. Engeland se drie is reg teen die einde eers gedruk.

Suid-Afrika eindig dus boaan groep B en kom Sondagoggend (02:42) teen Skotland in  die kwarteind te staan. Engeland moet in die kwarteind teen die wenner van groep C, Nieu-seeland, speel.

Engeland het geen antwoord gehad nie teen Suid-Afrika se verdediging, dikwels met die spelers wat opgeskiet het om Engeland se ruimte te beperk, smoortêkkels as hulle binne toe gespeel het, en  veral Werner Kock se harde werk om omkeerbesit te wen.

Daar was egter weer te veel foute by die afbreekpunte waar Suid-Afrika, moontlik weens maniere om hulle gewigagterstand te probeer oorkom, te dikwels gestraf is.

Maar dit is ʼn goeie wen, veral in ag genome die sukkel-eerste helfte teen Rusland met die enigste punte van die helfte wat in die agste minuut aangeteken is.

Daarna is die ritme gevind en die krane oopgedraai en is die vrotterige Rusland met 38-0 geklop.

In die eerste wedstryd van die toernooi het die Blitsbokke Papoea-Nieu-Guinee met 36-5 geklop

Sondag se kwarteindbepalings –

01:36: Fidji vs Samoa
01:58: Nieu-Seeland vs Engeland
02:20: Kenia vs Australië
02:42: Suid-Afrika vs Skotland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.