Blitse kry goeie nuus na Senatla en Kwagga se vertrek

springbok-sevens-greenDie Blitsbokke, met drie oorwinnings en ʼn tweede plek na die eerste vier oorwinnings in Wêreldbeker se 2016/’17 sewesreeks, het op die vooraand van die Las Vegastoernooi goeie nuus gekry.

Die ervare Cecil Afrika, wat van sy besering herstel het, is ingesluit in die Blitsbokke se groep wat Las Vegas toe reis om van 3-5 Maart aan die vyfde ronde van Wêreldrugby se sewesreeks deel te neem.

Afrika, wat reeds 1 167 punte in die Wêreldreeks aangeteken het, is een van twee veranderinge aan die groep wat die twee laaste toernooie in onderskeidelik Nieu-Seeland en Australië gewen het.

Hy en die ervare Stephan Dippenaar neem die plekke in van Kwagga Smith (Lions) en Seabelo Senatla (Stormers) wat hulle in die afsienbare toekoms op die Superreeks gaan toespits.

Dippenaar het wel in Sydney as groepplaasvervanger in Werner Kok se plek gespeel. Kok is in die toernooi beseer en kon nie verder aan die toernooi deelneem nie, maar die nuwe toernooireëls maak voorsiening vir ʼn plaasvervanger wat ingespan mag word.

Neil Powell, die breier van die Blitsbokke, se broek moet seker effens bewe oor die vooruitsig om die res van die reeks sonder Smith en Senatla aan te pak. Die Suid-Afrikaners het amper alle teenstand sover uit hulle pad gevee, deur drie van die vier toernooie te wen en net in Kaapstad einde verlede jaar in ’n eindstryd vas te val.

Amper elke keer wat Senatla in die afgelope toernooie aan die bal gevat het, het hy deurgedraf om te gaan afrond. Ja, deurgedraf, want hy het dit altyd maklik laat lyk. Smith se werk by die afbreekpunte en sy aansluiting as baldraer was van onskatbare waarde.

Daarby is die ervare Kyle Brown, wat die twee laaste toernooie weens beserings misgeloop het, steeds op die krukkelys.

Boonop is die veld van die Sam Boyd-stadion in Las Vegas waar die toernooi beslis word ongeveer sewe meter kleiner as die gewone in breedte. Dit maak dit vir spelers moeiliker om om hulle teenstanders te hardloop en sal diegene met flinke voetwerk en waaghalsige aangeë waarskynlik sukses behaal.

ʼn Aanpassing in hierdie verband sal ongetwyfeld deur die Blitsbokker gedoen word.

Powell sal hoop Afrika se ervaring tesame met spelers soos Kok, Justin Geduld en Rosko Specman wat in die onlangse verlede hulle gehalte gewys het, sal die knoopdeurhak.

Blitsbokke

(Toernooie tussen hakkies.)

1. Chris Dry (56), 2. Philip Snyman (kapt. 41), 3. Dylan Sage (11), 4. Zain Davids (2), 5. Werner Kok (23), 6. Siviwe Soyizwapi (7), 7. Branco du Preez (49), 8. Stephan Dippenaar (30), 9. Justin Geduld (29), 10. Cecil Afrika (47), 11. Rosko Specman (17), 12. Ruhan Nel (15),13. Stedman Gans* (0).

*Reserwespeler

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.