Blitse moet Wellingtonspook verjaag

springbok-sevens-greenWellington, soms deur die toedoen van ʼn skeidsregter soos in 2016, was die afgelope 15 jaar dikwels die plek waar die Blitsbokke se sewesveldtog begin skeefloop het na ʼn goeie begin in die Wêreldreeks.

Dit durf nie die naweek weer so wees nie. Hulle eerste oorwinning in Wellington sedert 2002 sal die Blitse se voorsprong op die reeks se punteleer ʼn hupstoot gee, des te meer so as Engeland en Fidji nie die eindstryd haal nie en die Springbokke wel.

Maar, en dis ʼn redelike groot maar, die Suid-Afrikaners moet eers by Fidji en Australië in die groepronde verbykom. En hulle moet nie Japan lig kyk nie, want so onlangs as in die Rio Spele het Japan vir Nieu-Seeland geklop.

ʼn Span kan nog met twee oorwinnings uit sy drie groepwedstryde na die kwarteind Sondag deurdring, maar twee neerlae sal ten beste ʼn dobbelspel wees en heelwaarskynlik nie goed genoeg nie.

Die sterk wind en veral die reën waarvoor Wellington bekend is, kan Suid-Afrika se blitsige spelers en wye speelpatroon onder druk plaas.

Suid-Afrika speel ook sonder die man wat hulle tot sovele toernooi-titels en ook die brons medalje by die Rio Spele aangevoer het, Kyle Brown. Hy het vanjaar afstand van die kapteinskap gedoen, maar sy leierseienskappe en die ervaring van 56 toernooie sal ongetwyfeld gemis word.

Dit is ook so in die geval van Cecil Afrika, wat in 46 toernooie die meeste punte, 1167, vir die Blitsbokke agter sy naam kan skryf. Dit is 242 meer as die 925 punte van die legendariese Fabian Juries.

Seabelo Senatla (172 drieë) jag die rekord 179 drieë van Juries, en Werner Kok speel teen Japan in sy 100ste wedstryd.

Dit is ʼn eerste toernooi vir Zain Davids en Siviwe Soyizwapi, in sy vierde toernooi, sal die plek van Afrika moet volstaan.

Suid-Afrika is op 41 reekspunte, twee voor Engeland (39) met Fidji (32), Skotland (27) en Nieu-Seeland (ook 27 punte) wat die naaste spanne aan hulle is.

Met die tydverskil is die Blitsbokke se eerste wedstryd Saterdag 01:09 teen Japan.

Dan volg die belangrike wedstryd teen die Aussies om 04:33 en teen Fidji om 08:18.

Die span (toernooie en punte in hakies) –
1. Chris Dry (54, 380)
2. Philip Snyman (kapt., 39, 231)
3. Dylan Sage (9, 45)
4. Kwagga Smith (26, 255)
5. Werner Kok (21, 250)
6. Zain Davids (debuut)
7. Branco du Preez (47, 922)
8. Rosko Specman (15, 196)
9. Justin Geduld (27, 594)
10. Siviwe Soyizwapi (4, 30)
11. Ruhan Nel (13, 125)
12. Seabelo Senatla (31, 860)
13. Sandile Ngcobo (2, 10) Reserwe

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.