Blitse nie in Sevilla vir ’n siësta

Impi Visser (voor, derde van links) sal die Blitsbokke in Siviwe Soyizwapi se plek in Sevilla aanvoer. Foto: Twitter.

Die indrukwekkende Blitsbokspan sal hierdie naweek in Sevilla poog om nóg ’n sewestrofee omhoog te hou.

Neil Powell se spelers het met hul sukses tydens verlede week se toernooi in Malaga hul vyfde agtereenvolgende toernooi gewen toe hulle vir Argentinië met 24–17 in die bekereindstryd geklop het.

Impi Visser sal egter nou die span op die veld lei nadat Siviwe Soyizwapi ’n besering tydens een van verlede naweek se groepwedstryde opgedoen het.

En volgens die 26-jarige speler is die span opgewonde oor hul komende Sevilla-avontuur.

“Vir ons gaan dit nie soseer oor rekords of om ’n sekere aantal wedstryde te wen nie. Dit is vir ons eerder belangrik dat elke speler weet wat ons doelwitte en waardes is, terwyl almal die spangees geniet,” het Visser gesê.

Hy het bygevoeg dat dit ’n voorreg is om in die kapteinskap-voetspore van spelers soos Soyizwapi en Kyle Brown te volg.

Weens Covid-19-regulasies sal Nieu-Seeland en Fidji weer eens nie deel van die aksie wees nie.

Die Suid-Afrikaners speel Saterdag hul eerste groepwedstryd teen Spanje en volgens Powell (afrigter) moet die tuisspan beslis nie as kanonvoer beskou word nie.

“Hulle het twee wedstryde in Malaga gewen en hul seges teen Wallis en Skotland het net hul vaardigheid op die sewesverhoog onderstreep,” het Powell gesê.

Tog is hierdie Blitsbokspan oorgehaal om met nog silwerware weg te stap.

Blitsbokke: Sakoyisa Makata, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Christie Grobbelaar, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Justin Geduld, Dewald Human, Shaun Williams, Mfundo Ndhlovu en Darren Adonis.

Bepalings:

Suid-Afrika teen Spanje (Saterdag om 11:57)

Suid-Afrika teen die VSA (Saterdag om 17:25)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.