Blitse op stryk teen Engeland, nou teen Kenia in kwarteind

Die Blitsbokke sal Sondag in die kwarteindstryd in Sydney teen Kenia te staan kom nadat hulle Saterdag met ʼn baie goeie vertoning vir Engeland 33-12 in hulle laaste groepwedstryd geklop het.

Engeland, wat tweede in groep C geëindig het, sal teen die nommer een-span in groep B, Argentinië,  in die kwarteind speel.

Vroeër Saterdag het Suid-Afrika met 38-0 in sy tweede groepwedstryd gewen nadat hy Vrydag reeds met 50-0 teen Papoea-Nieu-Guinee afgeskop het.

♦  Suid-Afrika was weens ʼn bal wat verkeerd vir Cecil Afrika gewip het, na net een minuut met 0-7 agter, maar het daarna feitlik in Engeland se kwartgebied kamp opgeslaan. Daar was een oorgooi oor ʼn aanvallende lynstaan deur die Blitsbokke wat egter op sewe punte uitgeloop het ná Engeland se aanslaan.

Die Blitse se hanteerwerk was skerp, hulle het goed by die afbreekpunte meegeding en dit met dissipline gedoen, en het baie goeie struktuur in hulle verdediging gehandhaaf.

Engeland was voor rustyd ietwat verdwaas, maar het met verdrag verbeter. Vyf drieë teen twee vir die Blitsbokke vertel egter van hulle oorheersing.

Seabelo Senatla was kookwater, ook met mededinging by die afbreekpunte en op die verdediging, en het soos Justin Geduld twee keer gaan druk met Afrika wat ook oor die doellyn is. Geduld het vier keer verdoel.

Fidji het Nieu-Seeland geklop om groep A te wen. Hulle sal teen die VSA in die een kwarteind speel terwyl Nieu-Seeland met Australië, wenner van groep D, te doene kry.

Wen die Blitsbokke hulle kwarteind, sal hulle Sondag teen die wenner van Fidji en die VSA speel.

Die kwarteindbepalings Sondag –

02:28 – Fidji vs VSA
02:50 – Suid-Afrika vs Kenia
03:12 – Australië vs Nieu-Seeland
03:34 – Argentinië vs Engeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.