Blitse ruk reg ná vele foute en ʼn neerlaag teen Skotland

Die Blitsbokke het hulself Saterdag in Wêreldrugby se sewesreeks in Parys onder kwaai druk geplaas toe hulle in hulle eerste wedstryd teen Skotland vasgeval het.

Die telling was 12-19, maar wat gepla het, was die talle ongedwonge foute, waarvan twee teen die verloop in tot Skotland-drieë gelei het.

Die Bokke het met hulle tweede probeerslag, teen Japan, veel beter gelyk hoewel dit teen ʼn veel swakker span was. Die telling was 35-5.

Toe Skotland in hulle tweede wedstryd ook met Kanada klaarspeel, was die Blitse in die knyp. Hulle moes toe in hulle derde wedstryd vir Kanada klop om vir die kwarteind te kwalifiseer.

En dit is tóé dat span wat die hele reeks op die puntelys voorgeloop het, gewys het van watter stoffasie hulle gemaak is.

Die gesukkel van die eerste wedstryd was weg, en hulle het met goeie verdediging en skerp aangeë die Kanadese met 31-7 gekelder.

Dit is nie ʼn sommerso vertoning wat dit meegebring het nie. Kanada het die vorige toernooi in Singapoer hulle heel eerste toernooi gewen en is nou ongetwyfeld een van die moeilikste spanne in die reeks soos hulle sewende plek aandui.

Hoewel die Blitsbokke se punteverskil beter as Skotland s’n was, is die Skotte eerste geplaas omdat hulle teen die Bokke gewen het. Dit beteken dat die Blitsbokke Sondag teen Samoa in die kwarteind speel.

Die Samoane, wat nou deur die legendariese oud-afrigter van die All Blacks, Gordon Tietjens, touwys gemaak word, het geleidelik in die reeks verbeter en Saterdag vir Fidji hokgeslaan. Ondanks hulle 13de plek op die reekspuntelys is hulle op ʼn goeie dag baie moeilik om onder te kry.

Saterdag het hulle juis, benewens Fidji, ook vir Australië ondergesit.

Sondag se kwarteindtye –

10:28 – Skotland vs Fidji
10:50 – Engeland vs VSA
11:12 – Samoa vs Suid-Afrika
11:34 – Nieu-Seeland vs Frankryk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.