Blitse se skietgoed steeds genoeg vir eerste Hongkong-sege

Ses uit ses eindstryde waarvan vier gewen is, ʼn voorsprong van 23 punte in Wêreldrugby se sewesreeks en ses van die manne wat hulle tot hiertoe help bring het wat nie beskikbaar is nie.

Neil Powell-hulle sal van Vrydag af poog om die rekord gestand te doen, hopelik hulle voorsprong bo Engeland verstewig en, baie belangrik, die Hongkong-toernooi selfs sonder die afwesiges te wen.

ʼn Sege in die toernooi was in die vorige 20 toernooie daar van die sewesreeks nog nie vir Suid-Afrika beskore nie. Powell, wat selfs dikwels daar gespeel het, weet dit maar alte wel. Hy het vier keer – in 2002/’08/’09/’11  waarvan een keer as kaptein sonder sukses daar gespeel.

Suid-Afrika het reeds drie keer in die Hongkong-eindstryd gespeel.

Ondanks die onbeskikbaarheid van die beseerde sewessterre Kyle Brown (knie), Rosko Specman (dyspier), Justin Geduld (voet) en Stephan Dippenaar (voet) verloor en ook die drieëvraat Seabelo Senatla en die uitstekende Kwagga Smith glo Powell dat sy span steeds die paal kan haal.

Die Blitse wil gaan wen, en nie net hulle puntevoorsprong verdedig nie.

Powell het darem die bronsmedaljewenner Tim Agaba terug na sy besering en die ervare manne Chris Dry, Philip Snyman, ­Werner Kok, Branco du Preez, Cecil Afrika en Ruhan Nel wat die ruggraat van die span sal vorm. Dyllan Sage kan al amper onder die klomp genoem word.

Die toernooi is spesiaal vir Cecil Afrika, ʼn voormalige sewesspeler van die jaar van Wêreldrugby. Hy het sedert sy sewesdebuut in 2009 in Dubai – hy het vroeër dié jaar ook in die Wêreldspele gespeel – reeds 49 toernooie vir die Blitse agter die blad.

Dit sou veel meer gewees het was dit nie vir beserings nie, en hy is reeds die voorste Suid-Afrikaanse puntemaker met 1 204 punte.

Suid-Afrika se bepalings in die groepfase, waar hulle teen Kenia, Frankryk en Kanada te staan kom, is:

Vrydag: 14:40 – vs Frankryk
Saterdag: 07:56 – vs Kenia; 11:56: – Kanada
Sondag: Uitspeeltye nog nie bepaal

Die SA groep vir die toernooi –

Chris Dry, Philip Snyman (kapt.), Dylan Sage, Zain Davids, ­Werner Kok, Siviwe Soyizwapi, Branco du Preez, Tim Agaba, Selvyn Davids, Cecil Afrika, Stedman Gans, Ruhan Nel. Plaasvervanger: Ryan Oosthuizen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.