Blitse sink Spaanse sewesarmada

Die Blitsbokke het Spanje op ’n drafstap in Singapoer gewen. (Foto: X/Blitsbokke)

Dit is nog vroeg in die toernooi, maar die Blitsbokke lyk honger vir sukses in Singapoer.

Die Suid-Afrikaanse sewesspan het vyf drieë in sy openingswedstryd teen Spanje gedruk om die kragmeting met 31–7 te beklink.

Kaptein Selvyn Davids het die driedrukbal aan die rol gesit toe hy die bal agter die skrum opgetel het en na die Spaanse doellyn laat wiel het.

Dewald Human het vir die ander punte in die eerste helfte gesorg en die Blitsbokke het ʼn rustydvoorsprong van 12–0 geniet.

Spel is skaars hervat of Impi Visser het die Spaanse verdedigers gefnuik, waarna Tristan Leyds met sy vinnige voete uitgeblink het.

Rosko Specman het vir die vyfde en laaste drie gesorg ná goeie wisselwerking tussen hom en Leyds.

Sewesstrydrosse soos Shakes Soyizwapi en Dylan Sage het ook hul terugkeer in die wedstryd gemaak, met Sage wat so amper ʼn drie in die tweede helfte gedruk het.

Suid-Afrika speel om 13:18 in sy volgende groepwedstryd teen Samoa.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drieë: Selvyn Davids, Dewald Human, Impi Visser, Tristan Leyds en Rosko Specman.

Spanje: Drie: Enrique Bolinches.

  • Blitsbok-groep: Christie Grobbelaar, Impi Visser, Zain Davids, Tiaan Pretorius, Selvyn Davids (kaptein), Dewald Human, Shakes Soyizwapi, Shilton van Wyk, Rosko Specman, Tristan Leyds, Dylan Sage, Quewin Nortjé en Katlego Letebele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.