Blitse verloor teen Ierland, Uruguay

Die Blitsbokke speel later vandag in die bekerkwarteindstryd teen Fidji. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke se treurmare in Los Angeles duur voort nadat hulle twee van hul groepwedstryde verloor het. Hulle het steeds genoeg gedoen om vir die bekerkwarteindstryd teen Fidji te kwalifiseer.

Hoewel die weer nie altyd saamgespeel het nie – die kragmeting teen Uruguay is byvoorbeeld twee keer weens weerlig uitgestel – het die Suid-Afrikaners ook doellose spel opgedis.

Hulle het onder meer teen die einste Suid-Amerikaners en Ierland verloor en hulle het te danke aan hul beter punteverskil na die beker-uitspeelwedstryde deurgedring.

Philip Snyman wil nie die skuld vir die span se geploeter voor die gure weerstoestande se deur lê nie.

“Ons het doodeenvoudig nie goed genoeg gespeel nie. Ons het oukei in ons wedstryd teen Kanada gedoen, maar teen Uruguay was ons hopeloos by die afbreekpunte en ons het glad nie ons balbesit beskerm nie,” het die Blitsbok-hulpafrigter gesê.

Hy was ook nie tevrede met hul vertoning teen Ierland nie.

“Ons het toe baie geleenthede gehad om hulle onder druk te plaas, maar ons het dit glad nie benut nie en die bal te veel kere weggeskop.”

Snyman verwag ʼn beter vertoning teen Fidji.

“Ons tel onder die topagt spanne, maar ons kan nie knaend op ander spanne staatmaak om ons ʼn hupstoot te gee nie – ons lot is in ons eie hande. Ons sal nou sterker as ooit moet terugkom.”

Die Blitsbokke het ook nie goeie herinneringe aan hul vorige besoek aan Los Angeles nie. Die Suid-Afrikaners het verlede jaar nie net teen die VSA en Nieu-Seeland vasgeval nie, maar ook in die titelwedloop teruggesak en moes magteloos toekyk hoe Australië hulle verbysteek.

Uitslae:

Suid-Afrika 12 – 0 Kanada

Uruguay 10 – 5 Suid-Afrika

Ierland 14 – 5 Suid-Afrika

Kwarteindstryd-bepalings:

Samoa teen Argentinië (Sondag om 20:23)

Suid-Afrika teen Fidji (Sondag om 20:45)

Groot-Brittanje teen Nieu-Seeland (Sondag om 21:07)

Ierland teen Australië (Sondag om 21:29).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.