Blitse wéér in die eindstryd getroef

Suid-Afrika se sewesspan is vir die tweede opeenvolgende naweek ʼn titel in Wêreldrugby se sewesreeks ontsê.

ʼn Skitterende tweede helfte deur Fidji wat die Blitsbokke tot foute gedwing het, en ʼn geelkaart teen Branco du Preez vir ʼn laatvat wat Fidji na rustyd aan die gang gekry het, het die eindstryd in Hamilton beklink.

Fidji se wentelling was 24-17 nadat die Bokke in ʼn stadium 17-5 voor was. Suid-Afrika het geen punte na rustyd aangeteken nie.

Dit was die krag van Fidji by die afbreekpunte, waar hulle die Blitse se oënskynlike wenballe òf swak gemaak òf gewen het omdat hulle die Blitse met krag en gewig van die bal gedruk het, en twee of drie stukkies geluk wat maar deel van hierdie spel is, het die grondslag vir Fidji se sege gelê.

Voeg daarby dat die een aanslag na die ander deur die groot Fidjiane op die veel kleiner Suid-Afrikaners die Groentruie uitgeput en têkkels laat mis het, en jy het die wenresep.

Takties het Fidji ook reg gespeel. Hulle het naby die fasette gebly en gedryf, besit gewen en dit dan herhaal om die Blitsbokke in te trek – en toe later begin wyd speel toe die patroon gevestig was en die Bokke begin moeg word het.

Suid-Afrika het sy voorsprong op die reekspunteleer nietemin van vier punte na agt vergroot omdat die tweede geplaaste span, Nieu-Seeland, nie die eindstryd kon haal nie.

Suid-Afrika het nou na vier toernooie 77 punte, gevolg deur Nieu-Seeland (69), Fidji (62) en Australië (60).

♦  In die uitspeel om derde plek het Australië met 8-7 teen Nieu-Seeland gewen ná ʼn skep-strafdoel ná die toeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet ·

Dit was teleurstellend om in die eindstryd te verloor, maar wraggies, net om die eindstryd te haal na al die beserings, vertel ‘n verhaal van buitengewone vasberadenheid!

Frans C ·

Geel kaart het bygedra tot Blitsbokke se verloor.
Stem dat dit nogtans alle verwagtinge oortref het.
Senatla en Smith gaan gemis word.

Johan ·

Soos Peet skryf is dit welgedaan dat ons die finaal kon haal, maar teleurstellend om toe te verloor in die finaal.

Om te verloor teen ‘n beter span terwyl mens goed gespeel het, is aanvaarbaar. Maar Sondag het een of twee foute op kritieke stadiums die Blitsbokke duur gekos. Met die afskop aan die begin van die tweede helfte het Kyle Brown die bal gewen en goed gevorder, net om die bal uit te gee aan ‘n Fidjiaan, vanwaar Fiji gaan druk het. Hierdie “swaai van 12 of 14 punte” (pleks van 22-5 toe is dit 17-12) was ‘n groot oomblik in die wedstryd. Daarna is dit asof Fiji “gekliek” het en as hulle eers aan die gang is, kan amper geen span by hulle kers vashou nie.

Nietemin welgedaan Blitsbokke. Ons raak nou al amper “bederf” dat hulle toernooie wen, dat as hulle in die finaal verloor, ons teleurgesteld is. So binne die groter prentjie – welgedaan. Maar ai, julle kon gewen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.