Bloedstryd duur voort in Noorde se Assupolreeks

assupol`n Stryd ten bloede toe wag Saterdag in die eerste ronde van die Noorderbonde se Assupolreeks en `n afskop op `n hoër noot is kwalik denkbaar.

Geen genade sal gegee of gevra word nie wanneer Pretoria Polisie (Blou Bulle) en Rustenburg Impala (Luiperds) op eersgenoemde se veld in Groenkloof, Pretoria, aanmekaar spring.

Die twee spanne het verlede jaar drie keer kragte gemeet en die totale punteverskil het uiteindelik op `n enkele punt neergekom. Boonop kon geeneen die ander op sy tuisveld klop nie – wat Polisie dié slag seker met `n haarbreedte die gunsteling behoort te maak.

In `n uiters spannende kwarteindstryd op Rustenburg in verlede jaar se reeks om die Gemeenskapsbeker het Impala 30-28 gewen. Hy het uiteindelik in die eindstryd teen Durbanville-Bellville verloor; en die Bobbies het die Plaatafdeling gewen.

Die verbete tweestryd is in die Platinumliga voortgesit. Impala het 27-26 in Rustenburg gewen, en Polisie 26-22 op Groenkloof.

♦ Die heersende kampioen, Centurion (Blou Bulle), het op die oog af `n maklike stryd teen die Eerste Liga-span, Tuine (Blou Bulle), maar dié soort kragmeting bring gewoonlik die beste in die buiteperd na vore.

Op die koop toe speel die spanne op Tuine se tuisveld waar die uiters lojale skare dikwels in die verlede `n besoekende span se nagmerrie was.

♦ In die ander twee wedstryde Saterdag in die A-afdeling speel die Universiteit van Johannesburg (Goue Leeus) op sy tuisveld teen Harlequins (Blou Bulle), en Naka Bulle is die gasheer vir die Tukkies (albei Blou Bulle).

Dit sal verras as die twee studentespanne nie maklik wen nie.

♦ Die B-afdeling skop 13 Februarie af met wedstyde op Potchefstroon, Tzaneen en Polokwane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.