Bloedsweet en trane wag in Curriebekerbotsings

Bloedsweet en trane wag in ʼn reg-of-weg-naweek vir al ses spanne wat in die Curriebekerreeks in aksie is.

Die Sharks, wat reeds van ʼn halfeindstryd in Durban seker gemaak het, het ʼn loslootjie, en die res van die veld spook sake om die oorblywende drie plekke uit.

Daar is baie “asse” betrokke, maar geeneen van die ses spanne kan bekostig om die naweek slae te kry nie. Die verloorders gaan lang trane huil.

Met slegs twee wedstryde oor – een elk wat die Sharks en die Griekwas betref – beloof die naweek se kragmetings om die allerbeste uit die spanne te haal.

Sowel die Cheetahs as die Blou Bulle se vertonings Vrydag in Bloemfontein sal fyn dopgehou word; in die tuisspan se geval om te kyk of sy slae teen Griekwas net ʼn glips was, en in die besoekers se geval of hy die groeikurwe van die jongste tyd kan volhou.

Die Pumas speel Saterdag tuis teen Griekwas, die agteros, en behoort die pyp te rook.

Wisselvallige vertonings het die Diamantvelders se veldtog vanjaar gekenmerk, maar as die span op al sy silinders vuur, kan hulle tog ʼn bedreiging vir die Pumas inhou.

Die Goue Leeus het tot dusver nie na ʼn span gelyk wat die Curriebeker kan (wil) wen nie, en sal Sondag voor sy tuisskare teen die Westelike Provinsie kans kry om die teendeel te bewys.

Die Streeptruie lyk tans na die enigste span wat die Sharks (wat net teen die Cheetahs se latere Pro14-span verloor het) darem in ʼn mate vir die beker kan laat sweet.

Die twee is tans ook die enigste spanne wat meer punte kon aanteken as wat hulle afgestaan het. Die Pumas het net soveel as hul teenstanders behaal, en die res het almal meer afgestaan as wat hulle kon aanteken.

Afskoptye –

Vrydag

18:15 Vrystaat teen Blou Bulle, Vrystaatstadion, Bloemfontein.

Saterdag

14:00 Pumas teen Griekwas, Mbombela-stadion, Nelspruit.

Sondag

14:30 Goue Leeus teen WP, Ellispark, Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.