Blommetjies en Cheetahs te goed vir Kings

Dankie vir my 10de Pro14-drie, sê Makazole Mapimpi vir Clayton Blommetjies ná dié met ʼn vorentoe skop sy drie “gemaak” het. (Foto Facebook: Clayton Blommetjies)

Die Cheetahs het hulle bonuspunt gekry, en die Kings het met durf gespeel en ʼn paar mooi dinge gedoen in ʼn lekker wedstryd wat egter nooit groot hoogtes bereik het nie.

Die Cheetahs het in Bloemfontein ses drieë in hulle oorwinning met 45-24 gedruk, en teenstrydig soos dit mag klink, was Saterdag moontlik die Kings se beste keerwerk in die Pro14-reeks.

Die Cheetahs is nou net sewe ligapunte agter Munster, maar het een wedstryd minder gespeel.

Die Kings se afronding het weens hanteerwerk, maar veral oor swak opsies, weer geleenthede laat skipbreuk ly, maar hulle het letterlik als gegee. Hier en daar het hulle lekker aangeval, maar agterlangs was daar net eenvoudig nie die finesse en visie van hulle teenstanders nie.

Volgens hul patroon tot dusver in die reeks het die Kings weer goed begin, maar was daarna nie die gelyke van die wenspan nie. ʼn Kings-drie net voor rustyd het wel die telling net 24-17 in die Cheetahs se guns gemaak, maar daar kon toe reeds nie veel paniek in die Vrystaters se rustydspanpraatjie gewees het nie.

♦  Rustyd het die Cheetahs al drie keer gedruk en die Kings twee keer,  maar in die tweede helfte was dit feitlik net Clayton Blommetjies en die Cheetahs wat die wedstryd oorheers het.

Blommetjies was, soos altyd as hy effens ruimte het, dodelik op die aanval. Benewens sy aftrappe en die ekstra man wat hy so dikwels bewerkstellig, het hy hierdie keer ook met twee goedgeplaaste skoppe op die aanval die drieë van Ox Nché en Makazole Mapimpi met slim skoppe, eers na binne vir Nché se drie en toe veld-af vir Mapimpi se tiende drie in die reeks aangevoer.

Mapimpi is nou los voor as driedrukker, maar dit was sy laaste Pro14-wedstryd. Hy val Maandag by die Sharks in vir die Superreeks.

Die Cheetahs speel eers weer op 10 Februarie, in Cardiff teen die Blues, op hulle toer van drie wedstryde.

♦  Hulle afrigter Rory Duncan sal veral bekommerd wees oor die hanteerwerk, veral in die eerste helfte en ook hier teen die einde toe sake ietwat los geraak het.

Die omkeerbesit by en om die afbreekpunte, waar individue uitgeblink maar die pak as geheel te veel keer die bal prysgegee het, sal seker ook aandag kry. Hier was die Kings se Andisa Ntsila uitstekend.

♦  Drie strafskoppe en ʼn spanwaarskuwing binne die eerste drie minute het die alarm vir die Cheetahs laat lui, maar op die ou einde was daar net een geelkaart teen Craig Barry – ʼn yslike verbetering op die vyf in die vorige twee wedstryde.

Puntemakers –

Cheetahs (24) 45: Drieë: Nico Lee 2, Uzair Cassiem, Ox Nché, Makazole Mapimpi, Shaun Venter. Doelskoppe: Fred Zeilinga 6. Strafdoel: Zeilinga.
Southern Kings (17) 24:   Drieë: Luzuko Vulindlu, Schalk Ferreira, Tienie Burger. Doelskoppe:  Ntabeni Dukisa 2, Benhard Janse van Rensburg. Strafdoel: Dukisa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.