Blou Bul-Curriebekerwenner oorlede

Lucas Viljoen. (Foto: Paddy Barton)

Een van die Blou Bulle wat die Curriebeker in 1973 teen die Vrystaat gewen het, is Maandag in Pretoria oorlede.

Lucas Viljoen, het in 1972 en 1973 nege keer as vaskopstut vir Suidoos-Transvaal (deesdae die Pumas) uitgedraf, voor hy einde 1973 in sy enigste wedstryd vir die destydse Noord-Transvaal gespeel het.

Hy was indertyd aan die klub Pretoria verbonde.

Die Bulle het die Curriebeker herower deur die Blikore op Loftus Versfeld met 30-22 te verslaan. Die agttal (en die skrumskakel Dirk de Vos) het die oorwinning verseker, en in dié opsig het Viljoen hom nie onbetuig gelaat nie.

Hy het later jare ook afgerig en Goue Oue-rugby gespeel.

Met die klub Crusaders se 100ste verjaardag in 1987 het hy – in ʼn voorwedstryd vir die feeswedstryd tussen die SA Barabrians en ʼn Crusaders-vyftiental – ʼn Binnelandse Goue Oues-vyftiental  teen ʼn Kus-vyftiental aangevoer.

Viljoen was onder meer die hoof van die Hoërskool Vorentoe in Johannesburg, en het ʼn leidende rol in onderwyskringe gespeel.

Oudleerlinge bring wyd op die sosiale media hulde aan hom vir die rigtinggewende rol wat hy in hul lewens gespeel het.

Hy word onder meer bestempel as ʼn “mentor”, “pa by die skool”, “vriend”, “yster” en “rolmodel”, en daar word gewag van gemaak dat hy altyd geglimlag en begrip gehad het.

Sy huldediens is Vrydag in die Hervormde Kerk Wonderboom in Marjoramstraat, Annlin.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.