Blou Bulle- en Valkeklubs in nuwe Superliga

Drie van die Valke se voorste klubs se eerste spanne speel vanjaar saam met die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se vier senior klubs en Rustenburg Impala van die Luiperds in ʼn nuwe Superliga.

Eugene Hare, die hoof- uitvoerende beampte van die BBRU, het dit teenoor Pale Toe! bevestig.

Dit word gelyktydig met die Carltonliga en die Valke se eie ligas beslis, en die Valkeklubs kan nie die Carltonbeker wen nie.

Brakpan, Springs en East Rand United (ERU) is die Oos-Randse klubs in die reeks, en die liga begin 3 Maart.

Die BBRU het ook ʼn A2-afdeling vir die Carltonreeks ingestel, min of meer in ooreenstemming met die eertydse Reserweliga, waarin die tweede spanne van die Pretoriase A-klubs en Impala saam met Tuine en die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) se eerste spanne speel.

Dragons van Pretoria-Noord, wat verlede jaar in die Carlton-A-liga meegeding het, verkies om in die Carlton-B-afdeling te speel, wat as die Presidentsliga bekend sal staan.

ERU

♦ As ERU se sege Saterdag van 45-26 (rustyd 24-12) oor Centurion ʼn aanduiding is van die gehalte rugby wat die Valkeklubs in die Superliga sal speel, kan vuurwerk in die reeks verwag word.

Centurion was verlede jaar een van die halfeinders in die uiters mededingende Carltonreeks.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die klub se voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê. Die lostrio het puik gekombineer, en die kookwater-flank Calvin Jantjies was die speler van die wedstryd.

ERU se puntemakers – Drieë: Igor Engelbrecht, Waylon Thormpson, JP Fleming, Jacky Jonkers, Calvin Jantjies en Ricky Menezes. Doelskoppe: Cameron Rooi (6). Strafdoel: Cameron Rooi.

ERU o.20 het met 43-30 gewen.

Vereeniging

♦ Die Valke se kampioen, Vereeniging, het besluit om nie aan die Superliga deel te neem nie, onder meer omdat slegs die Valkeklubs se eerste spanne daarby ingesluit is.

Koos Bosman, die voorsitter van Vereeniging, sê hulle glo dis nie gesond vir klubrugby om die tweede en o.21-span uit te sluit en ‘n klub so te verdeel nie.

“Ons sou ook 21 uit 23 naweke moes speel om al ons bepalings na te kom, en ons glo dis belangrik dat die manne gereeld naweke vry moet hê om tyd saam met hul gesinne te kan deurbring.

“Voorts sou dit geweldige finansiële druk op ons geplaas het, iets wat ons tans nie kan bekostig nie.”

Bosman se spelers speel nie vir VRK om geld te verdien nie. Dit gaan om die liefde vir die spel en die samehorigheid tussen klublede.

QBR

♦ Ben Eybers, die president van Quins-Bobbies-rugby (QBR), laat weet die klub bied Saterdag verskeie wedstryde op sy veld in Groenkloof aan.

QBR Swart speel in die Superliga teen Springs (16:00), QBR Rooi en Silwer speel teen Tuine I en II in Afdeling A2 van die Carltonliga (13:15 en 14:30) en twee spanne van die Hoërskool Voortrekkerhoogte speel teen die Trelew-toerspan uit Argentinië (11:00 en 12:00).

Sandveld

♦ Die Griffons se Sandveldliga skop op 15 Maart af, en die eindstryd is vir 7 Mei bepaal.

Bloemhof, Bultfontein, Hoopstad en Theunissen speel in Groep A, en Bothaville, Kroonstad, Parys en Wesselsbron in groep B.

WP

♦ Die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) het intussen bevestig dat sy klubseisoen as gevolg van die Kaapse watertekort tot Junie uitgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Verbaas ·

Ek staan verbaas dat daar nog Klubs is wat sê hulle betaal nie spelers en dat hulle vir die liefde van die sport speel!In enige Unie word daar geld gepraat by n Senior Divisie klub!Hoe skuif spelers dan van klubs na n seisoen as dit nie gerieflik is vir hom tyd en afstand gewys,sonder n ou fooitjie nie!Kom manne ons weet van beter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.