Blou Bulle kry tussentydse president

Die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) het ʼn tussentydse president aangewys om Gert Wessels, wat bedank het, se plek vol te staan.

Willem Strauss, ʼn vooraanstaande rugbypromotor en die afgelope vier jaar ʼn visepresident van die bond, sal luidens ʼn verklaring voorlopig tot November 2018 die pos vul.

Strauss, ʼn stiefbroer van die Springbok De Wet Ras, het geskiedenis gemaak toe hy die eerste private promotor geword het om ʼn toets vir die Bokke (teen Samoa) te reël, en speel ʼn leidende rol in die vestiging en uitbouing van sewesrugby in Suid-Afrika.

Hy het jonk al die oog gevang toe hy in 1991 op 24-jarige ouderdom bestuurder en uitvoerende beampte van die destydse Suidoos-Transvaal (nou die Pumas) geword het, en die bond in die agt jaar van sy bestuur van 22ste tot vyfde op die Suid-Afrikaanse ranglys gevorder het. Dit het oorwinnings oor toerspanne van Skotland en Wallis, en Curriebekerseges oor spanne soos Noord-Transvaal, die Westelike Provinsie en Transvaal ingesluit.

Strauss het van 1996 tot 1999 ook as die bemarkingsbestuurder van die Noorder-Bulle-franchise opgetree, voor hy sy eie promosiefirma opgerig het. Dit spesialiseer in die aanbieding van rugbytoernooie, geleenthede, inkomende en uitgaande toere na onder meer Afrika, Europa, die Verenigde State, Suid-Amerika, die Suidsee-eilande en Dubai.

Hy is ʼn produk van die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein en van die Universiteit van die Vrystaat.

Strauss en sy vrou Elmarie het vier kinders, Hermias, Enan, Marlizca en Mishke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.