Blou Bulle Maatskappy wil poste sny

loftus6

Loftus Versfeld

Dit blyk dat die goue jare vir eers verby is en die rieme word ál dunner gesny nadat die Blou Bulle Maatskappy (BBM) in ʼn brief aan sy heeltydse personeel gesê het dat daar binnekort met ʼn afleggingsproses begin gaan word om sy finansiële posisie te verbeter.

Só ʼn stap is sekerlik onafwendbaar nadat die geldkraan geleidelik begin opdroog.

Geen finansiële syfers is genoem nie, maar dit is geen geheim nie dat die benarde finansiële posisie toegeskryf kan word aan die spanne se middelmatige vertonings wat tot kwynende toeskouergetalle gelei het. Daar is ook baie minder seisoenkaartjies verkoop en talle van die losies op Loftus in Pretoria staan leeg.

Die Bulls het vanjaar 15de op die Superrugbyreeks se algehele puntelys geëindig en kon net vier van hul 15 wedstryde wen. Daar was in 2016 ʼn effense oplewing nadat hulle nege van hul 15 wedstryde gewen het en tweede ná die Stormers in die Afrika 2-afdeling geëindig het, maar in 2014 en in 2015 het die Bulls algeheel negende geëindig.

Die begroting van die hoëprestasie-afdeling, waaruit die spelers se salarisse betaal word, het sedert 2013 ook skerp toegeneem. Só ook die koste van korporatiewe dienste en stadion-onderhoud.

Daar is reeds verskeie maatreëls ingestel om afleggings te vermy. Vakante poste is nie gevul nie, verskeie maatskappye is om borgskappe genader en daar is ook ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie gedoen om die uitsaaitoelae te verhoog.

Volgens inligting is 233 heeltydse werknemers in diens van die BBM wat bestaan uit 159 spelers, 33 in die hoëprestasie-afdeling (wat die afrigters insluit) en 41 in die kommersiële en finansiële afdelings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lilla ·

Laat die mense weer ‘n bier of twee op die paviljoen drink dan sal die mense weer loftus to kom. Hoe kyk jy ‘n rugby game sonder ‘n biertjie?

Veritas ·

My pa het altyd gesê: ”n goeie verloorder is altyd ‘n verloorder’. Solank jy aan die wenkant bly sal jy ondersteuning waardeer. By die Bulle word daar net gesê: Dit raak beter en as ons so aanhou gaan ons weer eendag wen. Nee-wat, na 50 jaar se vurige ondersteuning, is ek klaar met die Bulle. Mens kan net sóveel van die gemors verwerk.

Waghond ·

Dit gebeur as die bestuur- en afrigtingspan sowel as die spelers sulke vrot rugby opdis wat net nie meer vir die toeskouers en borge aanvaarbaar is nie. Van Graan, Xander en andere moet waai. Hoe gouer hoe beter!

Johan Maritz ·

Ek het dit lankal sien kom ons kan nie meer julle bekostig nie. Die salarisse is buitensporig en julle presteer onder gemiddeld, kyk eerder skole rugby baie beter en goedkoper.

Leon Fourie ·

Jy kan nie die ondersteuners blameer as jou span aanhou vrot rugby speel . Ek weet jou span kan nie elke game wen nie,maar die uitslae van die afgelope jare is patties.Ek is moeg om week na week gespot te word.Die Bulls sal vinnig moet regkom as hulle weer Loftus vol wil sien.

Callie ·

Jare terug het ons rugby gaan kyk in groepe met kombis en busse. Feestelike tye met topklas rugby. Toe kom kwotas. Toe daal rugby standaard. Toe meer verloor as wen. Toe n gees wat gedemp word deur n regering wat verdere kwotas afdwing. Toe…….,toe… en nou die blanke toeskouer wat sy rug draai op die eens magtigste en bes presterende span in die land. Dis die einde tensy n wonderwerk gebeur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.