Blou Bulle met Supersport-penarie in leeukuil

Die Blou Bulle sit Saterdag met ʼn ernstige penarie in die Noorderafdeling van die Supersportreeks.

Tensy hulle die onoorwonne Goue Leeus-vyftiental in die leeukuil op Ellispark klop, kan die span se voet op die punteleer gly, want die Pumas (wat juis al die Bulle getroef het) sit reg om die tweede plek oor te neem.

In die “ou dae”, sal die oues van dae ʼn mens vertel, was dit juis by sulke geleenthede dat die Bulle op hul gevaarlikste was.

In watter mate die span nog oor dié karaktertrek beskik, sal Saterdag ons leer.

Nietemin, die Leeus is die gunsteling om tuis hul onoorwonne status te behou.

Die Pumas speel in die Bosmanstadion op Brakpan teen die Valke, en klink vasbeslote om die tuisspan onder te sit met die oog daarop om die Bulle verby te steek.

Op Nuweland, in die enigste wedstryd Vrydag, behoort die Suidelike voorloper, die Westelike Provinsie, dit vier uit vier te maak teen sy buurman, die Suidwestelike Distrikte se Arende.

Van groter belang vir die Stormers-manne is waarskynlik die vertonings van Juan de Jongh en Rynhardt Elstadt ná hulle van beserings herstel het.

In die ander Suidelike wedstryd behoort Boland die OP Kings in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth ʼn harde neut vind om te kraak, en op die oog af is daar nie juis ʼn gunsteling in dié kragmeting te voorspel nie.

Griekwas kan nie bekostig om te gly in sy wedstryd teen die Griffons in Welkom nie, maar kan nie verwag dat hy die wedstryd op `n skinkbord sal kry nie.

Ná verlede week se vertoning teen die Luiperds moet die Sharks-vyftiental die gunsteling wees om sy Vrystaatse eweknie op Ashton College se veld in Ballito te klop.

Die besoekers het egter eweneens verlede week teen Griekwas getoon hulle kan die voorste spanne voor die bors vat, en dit sal die Sharks loon om dit in gedagte te hou.

Afskoptye –

Vrydag

Nuweland 16:15

Saterdag

Ellispark 14:35

Brakpan 15:00

Ballito 15:00

Welkom 15:30

Port Elizabeth 16:45

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.