Blou Bulle plaas toekoms in Strauss se hande

Willem Strauss – geniet volle vertroue. Foto: Facebook/Blou Bulle)

Die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) het die volste vertroue dat Willem Strauss die regte man is om die bond en die Blou Bulle-maatskappy (BBM) weer ʼn krag in Suid-Afrikaanse rugby te maak.

Sy onbestrede verkiesing Vrydag tot president van die BBRU kan vertolk word as ʼn mosie van vertroue in sy vermoë om die bond en maatskappy weer op die wenpad te kry.

Strauss, ʼn internasionaal bekende rugbypromotor, is in Maart vanjaar tussentyds as president van die BBRU en voorsitter van die BBM verkies, ná Gert Wessels se bedanking uit dié poste.

Sy taak word geensins vergemaklik nie deur die feit dat die BBM nie net eersdaags ʼn nuwe uitvoerende hoof in Barend van Graan se plek moet kry nie, maar ook ʼn nuwe hoofafrigter vir die Bulls in John Mitchell se plek.

Dit sal raakvat kos.

Strauss het die afgelope paar maande voor gevat met ʼn klompie nuwe inisiatiewe wat op die ontwikkeling van die spel en spelers in Blou Bul-wêreld gemik is, maar dit sal sy ondernemingsgees en daadkrag tot die uiterste beproef om die Bloues se eertydse glorie te laat herleef.

Hy het ná sy verkiesing in ʼn verklaring gesê stabiliteit en koersvastheid is tans van die grootste belang, en hy sal sy bes doen om dit te verseker.

Strauss het sy sterk steunstruktuur, insluitende die bestuurspan en personeel, geloof vir hul bydrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie ·

Een van die groot probleme le by Carven week die seuns voel as hulle nie Craven week kry nie dan is hulle klaar . Dan fokus hulle om oorsee te gaan . Ek dink as ons ou spelers meer betroke kan raak sal dit baie dinge kan verander . Die Jong ondrewysers het nie altyd die kennis nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.